2023/01/27

Hofsitting met afvalliges

Lees: Miga 6:1-8

Gedagte vir kinders: Die HERE is altyd goed en geduldig, maar ook reguit met sy kinders.

Oorsig: Die profeet Miga tree op in dieselfde tyd as Jesaja. In hoofstuk 6 lees ons van ’n soort hofsitting waar die profeet die volk aankla en antwoorde vra en gee omdat God met hulle ’n verbond gesluit het. Vandag kan ons dit steeds hoor as profetiese woorde teenoor mense wat in ’n verbond met God staan omdat hulle gedoop is. Ons hoor eerstens dat selfs die skepping, die berge en die heuwels, as getuies opgeroep word. Ons hoor ook dat God twis (’n dispuut verklaar) met die volk en hulle wetlik aankla (regsgeding hou) in ’n tipe hofsituasie (v.1-2).

 Tog noem God hierdie sondige volk steeds “my volk” en Hy vra hulle dringend (“Antwoord My!”) wat Hy hulle verkeerd aangedoen het en waarmee Hy hulle moeg gemaak het (v.3). Hy noem vier dinge uit hulle geskiedenis om te wys dat Hy net goed was vir hulle. Hy het (1) hulle losgekoop uit die slawehuis van Egipte. Hy het (2) vir hulle leiers gegee in Moses en Aaron en Mirjam (v.4). Hy herinner hulle verder (3) hoe Hy Balak se plan om Israel  deur Bileam te vervloek, omgekeer het (Num. 22-24). Hy herinner hulle ook (4) aan die Here se sorg vanaf Sittim (laaste plek buite Kanaän waar hulle gesondig het – Num.25) tot by Gilgal (eerste plek oorkant die Jordaan binne Kanaän – Josua 5) wat God se regverdige dade illustreer (v.5).

Die profeet gaan dan aan om Israel se moontlike reaksie op God se aanklag te gee en daarmee ook duidelik te maak wat dit is wat God van hulle verwag. Eers word gevra of brandoffers en jaaroud kalwers die manier is om God te ontmoet. In die volgende rondte word dit in die oortreffende trap gevra of die Here besonder baie sal hou van (welbehae) in duisende ramme en tienduisende strome van olie. Dan word dit nog meer ekstreem gestel en gevra of die eersgeborene gegee moet word as offer vir die eie sonde of soos onder heidene geredeneer is – “die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel” (v.6-7). En dan gee die profeet die Bybelse eenvoud oor hoe God genader behoort te word. Hy wys eerstens dat God dit tog duidelik bekend gemaak het. Dit kom daarop neer dat die Here van elke mens verwag om (1) reg te doen, (2) God se goedertierenheid lief te hê (te ken en uit te leef), en (3) nederig voor jou God te leef. Dit beteken dat ons sal besef wie Hy is, wie ons is, hoe nodig ons Hom het in elke situasie, en dit ook uitleef voor en met ander (horisontaal en vertikaal - v.8).

Besprekingsvraag: Waarom is heidene geneig tot ydele herhaling van gebede en offers?

Insig: Die HERE spreek in hierdie hofgeding deur sy profeet reeds eeue voor Christus vandag steeds met ons wat in die tyd van die nuwe verbond in Christus leef. Afgedwaalde verbondskinders word dringend twee basiese vrae gevra: “My volk, my kind, (1) wat het Ek, die HERE aan jou gedoen, (2) waarmee het Ek jou vermoei?" En dan die arresterende opvolg: "Antwoord my!”

2023/01/20

Heerskappy wat lig, vrede en vreugde bring

Lees: Jes. 8:23-9:1-6

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus se heerskappy bring volmaakte vrede en geluk.

Oorsig: Die profeet Jesaja het God se oordeel in hoofstuk 8 aangekondig en gesê dat hulle vyand uit die Noorde sou inval om Israel en Juda in te neem. Maar nou verkondig Jesaja ook goeie nuus. Hy profeteer van ’n tyd waar dit nie langer donker sal wees soos toe God die stamme in die Noorde, Sebulon en Naftali, begin verneder het nie. Want God sou daardie dele eerste in ere herstel, onder meer die weg na die see wat ’n gewilde roete was vir die nasies, die deel wat tot oorkant die Jordaan gestrek het en wat ook die gebied van die heidene genoem is (8:23 - sommige vertaal dit met “Galilea van die heidene” soos bv. ook Mat. 4:15).

Jesaja profeteer dan verder dat daardie volk wat in duisternis geleef (gewandel ) het, ’n groot lig gesien het. Hy praat in die verlede tyd om te wys hoe vas en seker dit sal gebeur. Ja, hierdie volk wat woon in die land van doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn (v.1). Jesaja vertel dan dat God die nasie baie gemaak het en vertel vier keer, onder meer deur beelde van oestyd en oorlog-einde, van groot blydskap: (1) Mense se vreugde is groot gemaak; (2) hulle is vrolik voor God se aangesig, (3) soos iemand vrolik is in die oestyd, (4) soos iemand juig as die buit verdeel word as die oorlog verby is (v.2). Jesaja gebruik dan beelde van die bevryding uit die slawerny uit Egipte van hierdie nuwe bevryding: Die juk wat gedruk het, die stok op die rug, die roede van die drywer, is verbreek. Hy vergelyk dit ook met die bevryding wat die volk later beleef het toe God hulle hulle deur Gideon van die Midianiete bevry het (v.3). Hy wys ook daarop dat elke soldateskoen en uniform wat vol bloed is, in die vuur gegooi sal word (v.4).

En dan gee Jesaja die rede waarom dit sal gebeur: ’n Kind is gebore en deur God vir ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer en Hy sal genoem word met verskillende name wat vir ons ’n idee gee van sy Persoon en werk wat natuurlik net die Messias kan wees. 

2023/01/19

Oor Kerkgang en ewigheid

Soms gaan ’n lig sommer onverwags vir jou aan, dikwels in een of ander stase van ontspanning - as jy in die stort is, of fietsry of sommer net stap. Dit het blykbaar iets te make met 'n mens se breinsinapse wat dan oop is en wat ruimte oopmaak vir kreatiwiteit en skeppende denke. Dit kan ook gebeur in die ruimte van die Kerk se erediens - voor, tydens of na die tyd. Sommige noem hierdie tipe ervarings vandag sommer maklik, waarskynlik te maklik, ’n gesig of visioen. My siening is dat dit wat ons as sterk indrukke of oomblikke van oortuigings of sommer net lig wat opgaan beleef, in sekere kringe te maklik op vereenvoudigende wyse direk aan God en sy Gees toegeskryf en sommer as besondere openbaring in die midde van die toehoorders geplaas word. Die gevaar is dan om jouself hoër en beter voor te doen as wat jy is en moontlik selfs gesigte uit die eie hart verkondig (Jer. 23:16). Maar dit nou daar gelaat. In hierdie geval wil ek bloot vertel van 'n onlangse indruk en insig wat sterk in die Kerk by my opgekom het. En natuurlik moet ons in my kringe ook na die anderkant toe daarteen waak dat ons dit nie gering skat of genoegsaam waardeer wanneer ons Vader deur sy Gees ’n bepaalde insig sterker in ons gemoed kom vestig nie.

Daardie oggend voor Kerk verneem ek van 'n broeder wat deel was van 'n whattsapp-groep waarvan ek ook deel was, maar wat gedurende die vorige nag 'n bloedklont deur die hart gekry het en oorlede is. Die vorige dag was hy dus nog op ons whattsapp groep en die volgende dag in die ewigheid. En die oggend, in die Kerk met die hernude besef dat ons dae ’n paar handbreedtes is (Ps. 39:6) en dat ons elke dag dans op die stoepe van hemel of die hel, kom dit weer by my op: Die erediens is ’n tipe deur wat ons weekliks op ’n besondere manier oor die stoep bring en oor die grense van tyd en ewigheid.

Want wie in die erediens inkom en inklim, weet dat ons daarin heengevoer word na die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God die Regter van almal...en by Jesus die Middelaar van die Nuwe Testament, en die bloed van die besprenkeling (Hebr. 12:22-24). Ja, ons kom weekliks om die verbond te vernuwe met Hom wat lewe en die dood in sy hand hou. Ons word dus weekliks bewus van Hom wat die grens tussen tyd en ewigheid oorspan. En die bedoeling is seer sekerlik dat ons nou reeds inoefen om oor die Jordaan na die beloofde land te vaar.

2023/01/13

Verlossing vir Israel en die hele wêreld

Lees: Jes. 49:1-7

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is uitverkies om die ’n lig vir die hele wêreld te wees.

Oorsig: Die profeet Jesaja het aan die mense wat weggevoer is in ballingskap verkondig dat die Here hulle sal laat terugkeer uit Babel. En tog is die terugkeer net een kant van die saak. Want wat sou gebeur as hulle nie in hulle harte ook teruggekeer het na die Here nie? En dan vertel Jesaja in hoofstuk 49 van ’n gesprek tussen die HERE en Iemand wat hy sy Kneg noem wat die antwoord hierop sou gee. Hierdie Kneg maak groot uitsprake. Hy roep die verste gebiede, die eilande, en volke wat ver is, om te hoor en te luister. Hierdie Kneg sê dan dat die Here Hom geroep het en dat so belangrik is dat dit al kom van sy geboorte af (v.1).

Hierdie Kneg vertel verder dat Hy baie goed toegerus is vir sy taak. Die HERE het sy mond gemaak soos ’n swaard en Hom beskerm en Hom soos ’n skerp pyl gemaak en in sy pylkoker weggesteek (v.2). Hy getuig verder dat die HERE vir Hom gesê het dat Hy sy Kneg Israel is, in wie die Here Homself verheerlik (v.3). Daarmee word bedoel dat hierdie Kneg een met Israel sou wees en Israel sou verteenwoordig in dit wat Israel veronderstel was om te wees, en dat God sy Naam deur hierdie Kneg groot sou maak.     

Hierdie Kneg antwoord dan dat hoewel dit gelyk het of Hy Homself tevergeefs vermoei het en sy krag vir niks sinvol gebruik het nie en dat alles vrugteloos was, iets belangriker aan die gang was. Dit was dat sy reg nogtans by die HERE, en sy loon by sy God is (v.4). En dan wys Hy verder daarop dat die HERE wat Hom van sy moederskoot gevorm het om sy Kneg te wees en Jakob (die volk Israel) na Hom terug te bring, Hy wat geëer is in die oë van die HERE en wat in God sy sterkte gevind het, dat hierdie lewende God vir Hom gesê het: “Dit is te klein dat U my Kneg sou wees om  die stamme van Jakob ( die volk Israel) op te rig en die gespaardes in Israel terug te bring. Ek het jou gemaak het tot ’n lig van die nasies en om my heil en verlossing te wees tot aan die eindes van die aarde (met ander woorde, vir al die volke)” (v.6).

Hy vertel ook verder wat die HERE, die Verlosser van Israel, die Heilige God, as ’n belofte gegee het aan die Kneg wat so diep verag is deur die volk, en wat ’n dienaar van die heersers was. Konings en vorste sal opstaan en neerbuig ter wille van die HERE wat getrou is. Want die Heilige van Israel het hierdie Kneg uitverkies om die lig en verlossing na die wêreld te bring (v.7).

 

Besprekingsvraag: Waarom kan net Jesus Christus die Kneg wees waarvan Jesaja hier praat?

Insig: Wie is die Kneg waarvan Jesaja hier praat? Vanaf die tyd van die hofdienaar van Ethiopië tot by moderne kritici van die Bybel weerklink die vraag: Jesaja self of iemand anders? (vgl. Hd. 9:34; vgl. Jes. 53. Israel word wel ook kneg in Jesaja genoem (vgl. Jes. 41:8; 44:21), maar dit is duidelik dat hierdie Kneg hier ook Israel moet terugbring na God toe (v.5-6). Vanaf Bybelse tye was daar reeds iets soos verteenwoordigers van ’n hele volk. Veral Konings en Hoëpriesters het so ’n rol vervul en reeds in Jesaja 7-9 verneem ons van so ’n koninklike figuur en ook in Jes. 42. In Jes. 53 verneem ons verder dat hierdie Kneg ons sonde op Hom sou neem. En in Jesus Christus wat beide koning en priester is (vgl. Hebr. 7-10) word hierdie profesie in sy volheid vervul. (vgl. Hd. 9:9:35-40). Dit laat ons besef dat ons eintlik hier inluister op 'n intertrintariese gesprek tussen die Vader en die Seun. Wat 'n voorreg! Moontlik het teoloë wat spekuleer oor die vredesraad (pactum salutis) van die Drie-enige God ook hierdie soort teksgedeeltes in die oog. En deur hierdie Skrifgedeelte besef ons weer eens: Jesus Christus kom doen wat Israel en ons moes doen, maar nie kon nie. Hy is die ware Jakob - die ware Israel - en die lig van die wêreld (Joh. 8:12).

Hy bring na nasies die reg

Lees: Jes. 42:1-9

Gedagte vir kinders: Jesus is die Kneg van die Here wat Homself vir ons oorgegee het.

Oorsig: In Jesaja 41 hoor ons twee keer dat die profeet Jesaja uitroep: “Kyk.” Hy beklemtoon daarmee dat afgode niks en niksseggend is (41:24;29). En dan lees ons aan die begin van die volgende hoofstuk God se oplossing vir daarvoor ’n sondige en gebreekte wêreld: “Daar is my Kneg...” Ons hoor dat God hierdie Kneg, (1) sy Uitverkorene noem en (2) dat sy siel in Hom ’n welbehae het en (3) dat Hy sy Gees op Hom gelê het en (4) dat Hy die reg na die nasies sal uitbring. (v.1).  Jesaja gaan dan voort om te beskrywe hoe hierdie Kneg dit sal doen.

Hierdie Kneg van die Here sal nie optree soos die wêreldheersers en tiranne wat skreeu of uitroep en hulle stem op die straat laat hoor nie. As iemand soos ’n geknakte riet is wat klaar nie sterk is nie, sal Hy dit nie breek nie, en as iemand soos ’n dowwe lamppit is wat op die punt is om uit te brand, sal hy dit nie uitblus nie (v.2-3). Hoe sal Hy dan optree? Hy sal met getrouheid die reg uitbring, m.a.w. God se wil bekend maak soos dit is (vgl. NAV). In terme van die beeld van die riet en die lamppit hoor ons verder dat Hyself nie dof sal brand of geknak word totdat Hy God se reg op aarde gebring het nie, m.a.w. Hy sal deurdruk tot Hy God wil gevestig het. En dit wat Hy doen sal so groot wees dat selfs die verste eindes van die aarde, die eilande soos hulle dit genoem het, dit kan verwag (v.4).