2023/08/18

Here, help my!

Lees: Mat. 15:21-28

Gedagte vir kinders: Ons hoef nooit moedeloos te word om vir die Here se genade te vra nie.

Oorsig: Net voor hierdie gedeelte hoor ons van tradisies (oorlewering van die ou mense) en rituele, bygevoeg by die Ou Testament, wat in die pad van Christus se innerlike reiniging kan staan en die bevrydende Woord (sola scriptura en solus Christus) ontken. In hierdie gedeelte hoor ons hoe geloof in Christus (sola fide) die belangrikste is en hoe ons so gereinig word en genesing mag ken (vgl. Hand. 15:9). Die Here Jesus het vanaf Galilea in die Noorde, saam met sy dissipels nog verder noord gegaan, tot selfs buite die grense van Israel in die heidengebiede naby Tirus en Sidon (v. 1. Vgl. Luk. 4:26). Hulle wou moontlik rus en ook die mense laat nadink oor wat die beteken as Christus weg is (vgl. Mat. 10:14). Daar het 'n Kananese vrou ('n Griekse vrou van Siro-Fenisiese afkoms volgens Mk. 7:26) na Hom geroep met grootse woorde.

Sy het Jesus respekvol as Here en as Messias (Seun van Dawid) aangespreek en gevra dat Hy barmhartig sal wees. Haar dogtertjie was erg van die duiwel besete (v.22). Die Here Jesus het haar nie geantwoord nie. Sy het egter so aangehou dat die dissipels blykbaar ongemaklik geraak het en Hom gevra het om haar (te help en dan) weg te stuur. Die Here Jesus het bloot soos vroeër (vgl. Mt. 10:5-6) geantwoord dat Hy gestuur is na die verlore skape van die volk van Israel. Uit Markus 7 leer ons ons dat Hy daar iewers in 'n huis gegaan  het. Ons kry vanuit Markus die indruk dat sy daarvan gehoor het, op een of ander manier daar ingekom het, en toe voor sy voete neergeval (neergebuig) het en weer gevra het: Here, help my! (v. 23-25).

Die Here het haar toe nogeens in lyn met sy vorige woorde geantwoord en 'n beeld van 'n gesin met kinders en hondjies gebruik. Sy roeping was in Israel en met sy dissipels. Dit was nie reg om nou die sorg wat bedoel was hulle wat kinders was deur God se verbond  met Israel, nou vir hondjies, bedoelende heidene buite die verbond, te gee nie (v.26). Die vrou het egter 'n antwoord van geloof gegee. Sy het in nederigheid erken dat sy nie as kind in die huis erken kon word nie en dat Israel wel eerste moes kom. En tog het sy die beeld gebruik om dit verder te voer: Die hondjies kry darem krummels en sy was selfs bereid vir die krummels wat Israel by die Messias gekry het. Hierop het die Here Jesus haar antwoord van geloof geëer. Hy het vir haar gesê: “O Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê." Sommer so op afstand het daardie vrou se dogter toe gesond geword, presies van daardie uur af (v. 27-28).

Besprekingsvraag: Hoe rym ons Mt. 10:5-6 en 15:24 met Mat. 28:18-20?

Insig: Christus herhaal dit in sy bediening dat Hy gestuur is na die verlore skape van Israel (vgl. Mt. 10:5-6; 15:24; Rom. 15:8). Let egter op: 

2023/08/10

Groter as ons kleingeloof

Lees: Mat. 14:22-36

Gedagte vir kinders: Jesus Christus red hulle wat sink en na Hom roep.

Oorsig: Nadat die Here Jesus die skare van duisende (5000 manne met vroue en kinders) gevoed het, het Hy dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit op die see van Galilea oor te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare weggestuur het. Hy was nie te besig om dit eers reg af te sluit en te praat met die wat nog wou nie. Daarna het Hy, anders as ons wat so maklik na ’n hoogtepunt vergeet om daaroor te bid,  op die berg geklim om te bid en Hy was daar alleen toe dit aand geword het (v.22-23). Intussen was die skuit van die dissipels in die middel van die see van Galilea, wat eintlik ’n meer was en ook die meer van Genesaret genoem is. Daar kan nogal hewige storms op hierdie meer losbreek as gevolg van winde naby verskillende bergreekse, en hul boot is erg geteister deur die golwe, omdat die wind teen hulle was (v.24).

In die vierde nagwaak (tussen 3:00 en 6:00; vgl. ook Ex. 14:25) het die Here Jesus toe na hulle gekom op ’n manier wat ’n mens se asem wegslaan. Hy het op die see geloop. Toe die dissipels Hom op see in die storm sien loop, was hulle ontsteld en gesê dat hulle ’n spook sien. Hulle het midde hierdie verskriklike storm toe geskreeu van vrees (v. 25-26). Die Here Jesus het egter dadelik (let wel; vgl. Mt. 8:3,7) met hulle gespreek met woorde wat ook ons vandag nog kan bemoedig: Hou goeie moed! Ek is (Dit is Ek)! Moenie vrees nie! (v.27). Petrus het toe gevra dat as dit Hy is, Hy Petrus moet beveel om op die water na Hom te kom. Die Here het toe gesê: Kom! En Petrus het van die skuit afgeklim en sowaar op die water geloop om na Jesus te gaan (v.28-29). Maar toe sien Petrus die sterk wind en word bang en toe begin hy sink. Hy roep toe en sê: Here, red my! Die Here Jesus het dadelik (let wel) sy hand uitgesteek en hom gegryp en daarna vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel? (v.30-31).  

Daarna het hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle wat in die boot was, het toe voor die Here Jesus neergeval en gesê: Waarlik, U is die Seun van God! (v.32-33). Toe het hulle verder oorgevaar en in die land van Genesaret gekom. Die mense daar het die Here Jesus herken en toe in die hele omtrek almal wat siek was na Hom toe gebring (v.34-35). En hulle het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal wat dit aangeraak het, het gesond geword (v.36).

Besprekingsvraag: Hoe laat ons aan die letterlike én geestelike betekenis hier reg geskied?

Insig: Daar is ook verhale van loop op water in ander godsdienste en kulture, soos byvoorbeeld by Boeddha en by Homeros se verhaal oor Odysseus. Die saak word dan vinnig net simbolies verstaan en selfs gelowiges wil hierdie gedeelte net psigologiseer. Ons moet egter eers die gedeelte baie letterlik lees. 

2023/08/02

Kom koop verniet

Lees: Jes. 55:1-5

Gedagte vir kinders: Kom eet en drink verniet by Jesus Christus se fees.

Oorsig: Ons verstaan die uitnodiging van Jesaja 55 beter as ons onthou wat vooraf gebeur het. In Jes. 53:11 hoor ons dat die Kneg van die Here, baie regverdig maak en hulle skuld dra. Daarom deel God Hom uit vir baie mense en die Kneg verdeel die buit met baie mense (v.12, letterlik vertaal). Waarom kon dit gebeur? Omdat die Kneg van die Here (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So het Hy, die Kneg en Messias, hoog en verhewe, ja baie hoog geword (vgl. Jes. 52:13). Daarom sal nasies opspring en gedoop word, en daarom betoon konings respek (Jes.49:7; 52:15; vgl. KJV; vgl. Mat. 28:18-20). Ja, so trek die Messias nou almal na Hom toe (vgl. Joh. 12:32). In Jesaja 54 hoor ons dan dat die volk Israel opgeroep word om te jubel, want nou kan Israel, die bruid wat onvrugbaar was, ’n groot nageslag hê. En dan kom die oproep in Jesaja 55 na die hele wêreld om dit te kom neem wat die Messias bewerkstellig het.

2023/07/25

Die geheim van standvastigheid en sekuriteit

Lees: Ps. 125

Gedagte vir kinders: Ons kan net standvastig wees wanneer ons op die Here vertrou.

Oorsig: Psalm 125 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm begin met twee vergelykings tussen mense wat op die HERE vertrou en Jerusalem (v.1-2). Daarna hoor ons van die die gevolge hiervan vir die goddelose (v.3). Die Psalm vervolg dan met ’n gebed wat ingemeng is met ’n vermaning/belydenis (v.4-5). Die Psalm eindig met ’n seën soos sommige ander Psalms (vgl. Ps. 122:8; 128:6) en ook Paulus en die priesterlike seën (vgl. Num. 6:26; Gal. 6:16).

Die Psalm begin (v. 1) met ’n eerste vergelyking tussen die wat op die HERE vertrou en die berg Sion. Sion was die berg waarop die tempel gebou is. Hierdie berg waarop die tempel van die lewende God gestaan het, was die simbool van vastigheid en ware aanbidding wat in die HERE self gevestig was. Die Psalmis stel dan dat mense wat op die HERE vertrou hiermee vergelyk kan word. In die tweede vers gebruik hy ’n ander beeld van Jerusalem en berge. Hy wys daarop dat daar rondom Jerusalem berge was. Dit was in die vroeë tyd baie belangrik vir beskerming en het beteken dat die vyand jou nie sommer maklik kan inneem nie. Hier vergelyk die Psalmis die berge met God wat rondom sy volk is vir altyd. Watter gevolg het hierdie twee beloftes oor standvastigheid en veiligheid? Dit beteken dat die heerskappy (septer) van goddeloosheid nie rusplek sal vind op die erfdeel van God se kinders (die regverdiges) nie. Die rede waarom dit nie sal gebeur nie, is hier sodat God se kinders nie hulle hande sal uitsteek na onreg nie. Met ander woorde dat hulle in die versoeking sal kom om onreg te doen omdat dit lyk of die goddelose vir altyd suksesvol is.     

Die Psalmis gaan dan oor tot ’n gebede waarin Hy die HERE vra om goed te doen aan die goeies, bedoelende hulle wie se harte deur God verander is. Hy beskryf sulke mense ook as die wat opreg is hulle harte. Hy vra dus dat die Here nie sal toelaat dat die goeie ontbreek by hulle wat Hom volg nie (vgl. Ps. 84:12). Hierdie gebedsversoek word opgevolg deur ’n erkenning en vermaning. Hulle uit die volk van God wat langs krom paaie wegdraai sal die HERE laat vergaan saam met die werkers van ongeregtigheid. En dan sluit die Psalmis dit af met ’n seënbede: Vrede oor Israel. Dit is ’n wens dat wanneer Israel in hierdie geloof leef en op die HERE vertrou, hulle sy seën (shalom: omvattende welstand) sal beleef.

Besprekingsvraag: Hoe verkaar ons dit wanneer die bose skynbaar die oorhand het? 

Insig: In ’n wêreld waarin soveel dinge verander en vloeiend is, soek ons na bakens van standvastigheid. Kyk maar net na kinders wat die sekerheid van die ouerhuis weer opsoek. In Bybeltye was ’n ommuurde stad, ’n plek van veiligheid en stabiliteit, veral as dit op die berge en tussen berge was. Dit was by uitstek waar van die berg Sion met die tempel daarop binne die stad Jerusalem met berge rondom. Hierdie Godstad is beskou as sterk genoeg om militêre mag en selfs kosmiese magte te weerstaan (vgl. Ps. 46, 48). Waarom? Omdat die lewende God sy Naam daar gevestig het en in hul midde was. Nou gebruik die Psalmis juis beelde van hierdie stad met sy berge om te spreek van standvastigheid, geborgenheid, en beskerming. Diegene wat op die HERE vertrou is soos Sion en Jerusalem self ook nou bakens van standvastigheid en veiligheid. En uitdagende situasies toets ons telkens: Gaan jy nou op die HERE vertrou? Dit gee stabiliteit, maar ook beskerming, want die HERE eer die wat Hom eer.

Genade, Woord, en versoekings

Lees: Ps. 119:57-64

Gedagte vir kinders: Die Here self is ons grootste besitting en erfenis.

Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet (torah – omvattende onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie letter in die Hebreeus begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. Daar is altesaam agt verskillende woorde wat die Woord beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt soorte beskrywings gebruik, maar elke groepering onder elke Hebreeuse alfabet-letter gebruik ten minste ses van hierdie beskrywings.   

Ons lees in vers 57 onder die Hebreeuse letter, Get, dat die Psalmis bely dat die HERE self sy deel, met ander woorde sy eintlike erfporsie is. Daarom het hy ook gesê dat hy sy woorde sal bewaar. Wat is dan sy reaksie en gebed tot sy HERE? Hy (1) smeek Hom met (2) sy hele hart om (3) genade in lyn met (4) God se belofte (imra - vgl. v.58). Hy dink daarom ook na oor sy paaie (weë) en laat sy voete teruggaan na God se getuienisse (edot: statute). Hy doen dit met haastigheid en talm nie om God se gebooie (mitsvot: bevele) te onderhou nie (v. 59-60). Die Psalmis vertel dat hy dit wou doen, maar was daar versoekinge (strikke) van die goddelose wat hom omring en verhinder het. Tog het hy God se wet (torah: onderrigting) nie in sulke omstandighede vergeet het nie (v.61).          

Die Psalmis gaan dan voort om te vertel hoe kosbaar die HERE en sy Woord vir hom is. Selfs middernag, die tyd wanneer ons dikwels die meeste weerloos, swak, losbandig of uiters traag is vir enigiets behalwe slaap of sonde, staan hy aktief op om God te loof vir sy regverdige verordeninge (mishpatim: oordele; v.62). Hy wys dan ook vir wie hy ’n spesiale vriend (metgesel) is. Dit is almal wat die HERE vrees, met ander woorde die wat vir Hom ontsag het en Hom eerste stel en wat sy bevele (piqqudim: voorskrifte ) onderhou (v.63). Die Psalmis eindig met ’n lofprysing tot sy HERE, die Verbondsgod van Israel en vandag die Kerk. Hy noem Hom op sy Naam, en bely dat die hele aarde vol is van die HERE se goedertierenheid (hesed: verbondstrou; v.64). Wat gebeur wanneer ’n mens bewus raak van die HERE se goedertierenheid en verbondstrou wat oral is? Hy wil hierdie God intiemer ken deur sy insettinge (choqim: dekrete) te leer.  

2023/07/21

Patrone en uitdagings wanneer God nuwe dinge doen

Op 16 Januarie 2022 het ek die voorreg gehad om by 'n erediens voor te gaan wat ook deel was van die opening van die Afrikaanse Protestantse Akademie se jaarlikse verrigtinge. 'n Verkorte weergawe van die boodskap is later ook op Kragdag se blad gedeel. Ek leen in hierdie boodskap sterk aan op die homiletiese kommentaar op 1 Samuel van Joel McDurmon, asook die kommentaar van Peter Leithart naas 'n paar ander.

Lees: 1 Sam. 22:1-20; 1 Kr. 11: 10,15-19

Teks: 1 Sam. 22:1,2

1 Kron. 11:19b

Sing:

Ges. 39:1-3

Ges. 267:1-2

Ps. 144:1,4,5,6 

Inleiding

Een van die kenmerke van ons Whatsapp-tydvak, is dat ons deesdae met elke krisis ’n nuwe bombardering van boodskappe kry dat dit die einde van alles is. Ja, ons is by die punt dat daar al soveel keer wolf-wolf geskreeu is, dat mense geneig is om net maar te reageer met: “Die einde - hier gaan ons alweer...” Maar dit bring ons by ’n verdere dilemma. Te veel mense wat die oë rol oor die whats-app uitsprake, rol nie altyd die oë oor die heersende verhale van die hoofstroom-media nie. Hulle kan ook nie anders nie, want waar die Woord as ware Noord losgelaat word, gebeur nie niks nie. Nee, die hoofstroom-media en die hoofstroom denkwysies word die ware Noord. Wants soos al tereg aangedui is, mense wat nie meer in God en sy Woord glo nie, glo nie niks nie, hulle glo enigiets. Om dit dus in die beeld van die Matrix se rooi en die blou pil uit te druk: Diegene wat die blou pil neem, het gekies vir die hoofstroom-media as ware Noord, en hulle het ingekoop in ’n bepaalde staatsorde, waar die meubels dalk afgestof en rondgeskuiwe moet word, maar waar die mure en deure basies aanvaar is. En dan is daar diegene wat die rooi pilletjie geneem en verkies om te sien wat eintlik aangaan, maar iets haper, want dit lei meer tot whatsapp wolf-wolf boodskappe as enigiets anders.

Die Kerk van Christus doen iets anders. Hulle neem, om die beeld voort te sit, die koninklike pers pil wat gaan oor Christus as Koning en sy Woord. En dit is onder meer die roeping van die Kerk vandag om mense te wys op twee afgronde waarby ons maklik kan afval wanneer ons die tye wil lees en hanteer. Die een is om elke storie uit die monde van die Hoofstroom Media (HSM) te glo, en die ander afgrond is om elke selfaangestelde apokaliptiese profeet wat die eindtye op whatsapp aankondig, heeltemal te glo.

Ja, die Here is op pad en u en ek is nader aan die voleinding as toe ons gelowig geword het. Maar die Kerk van Christus is ook al deur die eeue met verstommende uitdagings gekonfronteer en deur watter avonture het Kerk van Christus nie al gegaan nie. En daarom moet ons uit ons gelese gedeeltes vanaand hoor: God lei sy Kerk en Koninkryk ook om nuwe dinge te doen, te midde van krisisse, te midde van nasionale, multi-nasionale en selfs globale krisisse, tirannie en massa-histerie. Donker wolke is nie net tekens dat ons nou by die einde is en net maar biddend kan toekyk nie. Nee, ons Skrifgedeeltes lei ons om om raak te sien dat God ook nuwe bewegings in sy Kerk en Koninkryk begin deur middel van krisisse en korrupsie. Vanuit ons Skrifgedeeltes fokus ons daarom op die volgende:

·       Die patroon van nuwe bewegings van God in moeilike tye

·       Die uitdagings van nuwe bewegings van God in moeilike tye

·       Die ywer van nuwe bewegings van God in moeilike tye  

2023/05/25

Pinkster en Kerk in die nuwe verbond

Lees: Hand. 2:1-21

Gedagte vir kinders: Pinksterdag herinner ons dat die Heilige Gees gegee is vir God se kinders.

Oorsig: Op die dag van Pinksterfees in Jerusalem, tien dae nadat die Here Jesus opgevaar het na die hemel, was die dissipels eendragtig bymekaar. Skielik het uit die hemel ’n geluid gekom soos ’n geweldige rukwind en dit het die hele huis gevul waar hulle was. Toe het hulle tonge van vuur gesien wat verdeel en op elkeen gaan sit. (v.1-3). Hulle is toe almal vervul met die Heilige Gees en het in ander tale begin spreek soos wat die Gees dit aan hulle gegee het om uit te spreek. Dit het in Jerusalem gebeur waar Jode gewoon het wat afkomstig was uit elke nasie waarheen hulle sedert die ballingskap verstrooi is (v.4-5).

En toe hierdie geluid van die rukwind kom, het baie mense saamgestroom en was verward, omdat hulle elkeen gehoor het hoe hulle in die taal spreek van die plekke waar hulle gebore is. Dit het hulle baie verbaas en verwonderd gemaak en hulle het vir mekaar daarop gewys dat dit dan Galileërs uit die Noorde was wat toe so gepraat het in die tale waarin hulle gebore is (v.6-8). Die tale word dan gegee soos wat dit van wes na oos rondom Jerusalem gevind is: Parthers en Meders en Elamiete, en die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadocië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die streke van Libië by Cirene. Dit was die tale van Romeine wat in Jerusalem vertoef het, en ook tale waarin sommige Jode grootgeword het asook heidene wat die Jode en hulle God goedgesind was (Jodegenote), tesame met Kretense en Arabiere. Hulle het elkeen in hul eie taal gehoor hoe daar oor die groot dade van God gespreek word (v. 9-11). Dit het hulle verbaas en radeloos gemaak omdat hulle nie geweet het wat om daarvan te maak nie. Ander weer, het gespot en gesê dat die mense vol soetwyn is (v.12-13).

Petrus het toe opgestaan en hulle met ’n groot stem toegespreek. Hy het eerste daarop gewys dat die mense nie dronk was nie, aangesien dit nie sommer om 9:00 (die derde uur) moontlik was nie (v.14-15). Hy het dit toe verklaar deur te wys op die woorde van Joel 2:28-32 (v.16-21). Dit is dat die Here in die laaste dae sy Gees sal uitstort op alle vlees - seuns en dogters (profeteer), jongmense (gesigte) en oumense (drome droom), en selfs die laagste stande, diensknegte en diensmaagde, sal profeteer. Die Here sou ook wonders in die hemel en op aarde gee voordat die Here se groot dag kom. En elkeen wat in sulke toestande die Naam van die lewende God, die HERE, aanroep, sal gered word. En dan gaan Petrus aan om vir hulle uit die Skrifte te wys dat die Naam van hierdie HERE, die gekruisigde en opgestane en gekroonde Jesus Christus is.

Besprekingsvraag: Watter verbande is daar oor Pinkster tussen die Ou en Nuwe Testament?

Insig: Pinksterdag kan net waardeer word as ons die agtergrondmusiek van die Ou Testament onthou. Dink aan Babel, aan Sinai, aan die oes-eerstelinge en aan die Israeliete se verstrooiing in die ballingskap.