Lees:
Jes. 49:1-7
Gedagte vir kinders: Die Here
Jesus is uitverkies om die ’n lig vir die hele wêreld te wees.
Oorsig: Die profeet Jesaja het aan die mense wat weggevoer is in
ballingskap verkondig dat die Here hulle sal laat terugkeer uit Babel. En tog is
die terugkeer net een kant van die saak. Want wat sou gebeur as hulle nie in
hulle harte ook teruggekeer het na die Here nie? En dan vertel Jesaja in hoofstuk
49 van ’n gesprek tussen die HERE en Iemand wat hy sy Kneg noem wat die
antwoord hierop sou gee. Hierdie Kneg maak groot uitsprake. Hy roep die verste
gebiede, die eilande, en volke wat ver is, om te hoor en te luister. Hierdie
Kneg sê dan dat die Here Hom geroep het en dat so belangrik is dat dit al kom
van sy geboorte af (v.1).
Hierdie Kneg vertel verder dat Hy
baie goed toegerus is vir sy taak. Die HERE het sy mond gemaak soos ’n swaard en
Hom beskerm en Hom soos ’n skerp pyl gemaak en in sy pylkoker weggesteek (v.2).
Hy getuig verder dat die HERE vir Hom gesê het dat Hy sy Kneg Israel is, in wie
die Here Homself verheerlik (v.3). Daarmee word bedoel dat hierdie Kneg een met
Israel sou wees en Israel sou verteenwoordig in dit wat Israel veronderstel was
om te wees, en dat God sy Naam deur hierdie Kneg groot sou maak.
Hierdie Kneg antwoord dan dat hoewel
dit gelyk het of Hy Homself tevergeefs vermoei het en sy krag vir niks sinvol
gebruik het nie en dat alles vrugteloos was, iets belangriker aan die gang was.
Dit was dat sy reg nogtans by die HERE, en sy loon by sy God is (v.4). En dan wys
Hy verder daarop dat die HERE wat Hom van sy moederskoot gevorm het om sy Kneg
te wees en Jakob (die volk Israel) na Hom terug te bring, Hy wat geëer is in
die oë van die HERE en wat in God sy sterkte gevind het, dat hierdie lewende God
vir Hom gesê het: “Dit is te klein dat U my Kneg sou wees om die stamme van Jakob ( die volk Israel) op te
rig en die gespaardes in Israel terug te bring. Ek het jou gemaak het tot ’n
lig van die nasies en om my heil en verlossing te wees tot aan die eindes van
die aarde (met ander woorde, vir al die volke)” (v.6).
Hy vertel ook verder wat die HERE,
die Verlosser van Israel, die Heilige God, as ’n belofte gegee het aan die Kneg
wat so diep verag is deur die volk, en wat ’n dienaar van die heersers was.
Konings en vorste sal opstaan en neerbuig ter wille van die HERE wat getrou is.
Want die Heilige van Israel het hierdie Kneg uitverkies om die lig en
verlossing na die wêreld te bring (v.7).
Besprekingsvraag: Waarom kan net Jesus Christus die Kneg wees waarvan
Jesaja hier praat?
Insig: Wie is die Kneg waarvan Jesaja hier
praat? Vanaf die tyd van die hofdienaar van Ethiopië tot by moderne kritici van
die Bybel weerklink die vraag: Jesaja self of iemand anders? (vgl. Hd. 9:34;
vgl. Jes. 53. Israel word wel ook kneg in Jesaja genoem (vgl. Jes. 41:8; 44:21),
maar dit is duidelik dat hierdie Kneg hier ook Israel moet terugbring na God
toe (v.5-6). Vanaf Bybelse tye was daar reeds iets soos verteenwoordigers van
’n hele volk. Veral Konings en Hoëpriesters het so ’n rol vervul en reeds in
Jesaja 7-9 verneem ons van so ’n koninklike figuur en ook in Jes. 42. In Jes.
53 verneem ons verder dat hierdie Kneg ons sonde op Hom sou neem. En in Jesus
Christus wat beide koning en priester is (vgl. Hebr. 7-10) word hierdie
profesie in sy volheid vervul. (vgl. Hd. 9:9:35-40). Dit laat ons besef dat ons eintlik hier inluister op 'n intertrintariese gesprek tussen die Vader en die Seun. Wat 'n voorreg! Moontlik het teoloë wat spekuleer oor die vredesraad (pactum salutis) van die Drie-enige God ook hierdie soort teksgedeeltes in die oog. En deur hierdie Skrifgedeelte besef ons weer eens: Jesus Christus kom doen
wat Israel en ons moes doen, maar nie kon nie. Hy is die ware Jakob - die ware
Israel - en die lig van die wêreld (Joh. 8:12).