2024/01/31

Hoe om dwaasheid te beantwoord

In Spreuke 26:4-5 lees ons die bekende en skynbaar teenstrydige woorde:

“Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie. 

Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.” 

’n Algemeen bekende verklaring hiervan is dat omstandighede bepaal watter vers van toepassing is. En dat ons wysheid nodig het, onder leiding van God se Gees, om te bepaal wanneer ons met watter soort optrede teenoor goddelose en moedswillige mense moet optree. Soms moet jy terugpraat en soms nie. Daar is nie net een regte antwoord nie. Daarom, as iemand wysheid nodig het, laat hom dit van God bid, en dit sal aan hom gegee word (Jak. 1:5).

Hierdie antwoord kan ons egter maklik laat voel of ons steeds in die lug hang. En tog dryf hierdie antwoord ons reeds uit tot gebed, wat alreeds ’n goeie ding is. Maar ons kan darem ook meer hieroor sê en ou bekende en betroubare verklaarders soos John Gill en Matthew Henry het darem ook lankal meer hieroor gesê. Byvoorbeeld: As iemand grootpraat en raas en heftig is, moenie ook so optree nie. Moenie ook roem en raas en rumoer nie. As iemand leuens vertel of dreig of swartsmeer, moet ook nie op dieselfde wyse optree nie, want dan word jy net soos die dwaas. Aan die ander kant, as jy reken daar is darem nog hoop vir die domastrantheid, of as jy verdere dwaasheid wil verhoed, of as jy ter wille van ander nie kan stilbly oor die dwaasheid nie, of as die dwaas net wys sal wees sin sy eie oë, antwoord hom dan in so ’n geval na sy sotheid. Soms is dit in meerdere belang dat jy nie mag stilbly nie. Hierdie toepassings help ons om die saak van die twee verse in Spreuke al baie meer konkreet en toepaslik aan te pak.

Daar is ook ander verklaring wat hierby aansluit. Eerstens: Antwoord ’n dwaas nie volgens die sotheid van sy egoïstiese of narsistiese of afgodiese verstaansraamwerk nie, anders word jy self ook so selfie-georiënteerd of behep met jou nietige gode wat af is. Aan die ander kant, antwoord die dwaas na sy sotheid om te wys wat die konsekwensies is van dwase denke. 

2024/01/29

Bok en Bernice se nuwe strydlied

Die treffer-lied van Bokvan Blerk en Bernice West, “Die Afrikaner maak so”, is Vrydag, 26 Januarie 2024, vrygestel en maak steeds groter opgang. Dit is ’n lied waarin identiteit en die positiewe trots van Afrikaner-wees, ritmies en treffend, dansend en strydend, vry teen die wereld en werwend aan die orde gestel word. Daar word prontuit in hierdie bewustelik ongerepte weergawe geweier om sondebok te speel vir ander volke se sondes. Die lied is daarom ook duidelik ’n proteslied, positief gestem, teen die veragting en selfveragting van die Afrikaner. Dit het gebeur omdat opregte skuldgevoel met valse skuldgevoel verwar word. Die Bybel is duidelik daaroor dat daar iets soos ’n verswakte gewete kan wees wat veral deel is van diegene wat nog swak is in die geloof (vgl. 1 Kor. 8:12 en Rom. 14). Dit is ook waar van hulle wat afvallig geraak en die tien gebooie prysgee het vir die liberale tien gebooie. Sulke mense sal noodwendig ’n verwarde skuldgevoel ontwikkel, met gepaardgaande verwarde middelaars en verwarde versoening.

Die lied van Bok en Bernice bepleit terugekeer na die wortels van die Afrikaner: “Onthou wie jy is.” Dit betken nie liefdeloosheid teenoor ander nie, maar eerder net natuurlike liefde vir die eie. Die gevierde joernalis, Christelike apologeet en Pro-Boer, G.K. Chesterton, het by geleentheid benadruk dat hierdie soort liefde nie blind is vir die eie sonde nie, maar dat dit wel gebonde bly. Hy het dit so gestel: “Liefde is nie blind nie; dit is die laaste ding wat dit is. Liefde is gebonde; en hoe meer dit gebind is, hoe minder is dit blind.”[1] 

2024/01/26

Oor vrees, wapenrusting en loon

In Gen15: 1 lees ons:

“Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ʼn gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ʼn skild en jou loon is baie groot.”

Hierdie beloftes aan die vader van die gelowiges is steeds van krag vir gelowiges wat in die voetspore van Abraham wandel. Dit beteken vandag dat ook jy in die verbond met God, soos vervul in Christus, leef. Kom ons deel God se grootste woorde vir sy Kerk, elke verbondskind en selfs elke verbondsvolk, op in die verskillende dele wat in hierdie vers na ons kom:

  • 1.      Vrees nie.
  • 2.       Ek is vir jou ’n skild
  • 3.       Jou loon is baie groot.

2024/01/25

Gesagvol om te leer en te bevry

Lees: Mark. 1:21-28

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus bevry ons van onreinheid en die bose magte. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus sy openbare bediening begin en sy eerste dissipels geroep het, het hulle in Kapernaum gekom in die Noorde van die land, aan die noordweste kant van die see van Galilea. Dit was ’n tipe basis van operasie vanwaar hulle verder gewerk het. Hy het dadelik op die Sabbat in die sinagoge ingegaan en begin leer (v.21). Die mense was verbaas/verslae (ekplesso) oor sy leer, want dit was baie anders as dit waaraan hulle gewoond was. Hy het hulle geleer soos een wat gesag in Homself het en nie soos die skrifgeleerdes van hulle tyd nie (v.22). Die skrifgeleerdes was gewoond om heen weer na gesagvolle bronne te verwys en fyn uitgewerkte argumente daarmee saam te voer. Maar hier was iemand wat met gesag gepraat het asof (omdat) Hy ’n besondere profeet van God is.

Hierdie gesag sou ook op ’n ander manier vinnig duidelik word, want daar was ’n man met ’n onreine gees in die sinagoge wat uitgeskreeu het (v.23). Hoe het dit gelyk en geklink? Ons weet nie, maar dit is duidelik dat hierdie man nie beheer oor homself gehad het nie en onrustig was oor die gesagvolle en heerlike woorde wat uit die mond van die Here Jesus gegaan het. Hy het geskreeu dat die Here Jesus moes ophou met sy lering. Hy het ook gevra wat “’ons” (let wel) met U te doen het” en gevra of Hy gekom het om “’ons” (let wel) te verdelg. Hy het verder uitgeroep dat hy weet wie Jesus Is: die Heilige van God! (v.24). Die Here Jesus het hom egter bestraf (let wel) en met gesag gesê: “Bly stil en gaan en uit hom uit!” (v.25). Dit het glad nie gepas dat die belydenis oor wie Jesus is uit die mond van onreine geeste kom nie. 

Die onreine gees het die man toe stuiptrekkings laat kry en met ’n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. Almal wat dit gesien het was verstom/verbaas (thambeo) sodat hulle onder mekaar gevra en gesê het: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom dan ook gehoorsaam is? (v.27). Hulle het met ander woorde raakgesien dat dit wat die Here Jesus geleer het, in lyn is met sy gesag om ook onreine geeste bevel te gee en hulle Hom gehoorsaam is. Die gerug oor Jesus Christus het toe dadelik begin versprei in die hele omtrek van Galilea, daar in die Noorde van Israel.

Besprekingsvraag: Kan onreine geeste vandag ook verskuild in die Kerk aanwesig wees?

Oorsig: Die Here Jesus het gekom om die magte van die Bose en die duisternis te oorwin. Reeds in hierdie eerste wonder waarvan Markus vertel, hoor ons wat dit beteken dat die koninkryk van God naby gekom het. Dit gebeur ook op die Sabbatdag en in die sinagoge. Die Sabbat was teken van God se verbond met en bevryding van sy volk (Ex. 31:16; Dt. 5:15) en die sinagoge was die plek waar dit gedenk en die Skrifte gelees en gebid is. Dit was dus die tyd en plek wat op besondere manier getuig het van God se teenwoordigheid en bevryding. Jesus Christus en sy lering bring egter daar onreinheid en onheiligheid na die oppervlakte. Dit behoort steeds so te wees in die Kerk van Christus waar die Skrifte in Christus gesagvol uitgelê word (vgl. 1 Kor. 14:24-25). Dit maak ons ook bewus waarom gesamentlike, egte verootmoediging en skuldbelydenis, in die erediens so noodsaaklik is.     

2024/01/19

Die manne van Nineve en ons

Lees: Jona 3:1-10

Gedagte vir kinders: God is genadig teenoor slegte sondaars wat nederig tot Hom nader.

Oorsig: Jona was die eerste keer ongehoorsaam aan God se opdrag om na die heidenstad en omstreke van Nineve toe te gaan (vgl. vgl. Gen. 10:8-12). Hy het weggevlug op ’n skip na Tarsus en op die skip het ’n hewige storm van God hulle amper laat omkom, totdat Jona erken het dat hy van God wegvlug. Uiteindelik het hulle hom oorboord gegooi en die storm het bedaar. Toe het heiden-matrose die Here aanbid. Jona is egter deur ’n groot vis van die HERE ingesluk waar hy ernstig gebid het. Drie dae later het die vis hom op droë land uitgespoeg. Ons gelese hoofstuk begin waar die woord vir die tweede maal tot Jona gekom het (v.1).

Die HERE het Jona weer beveel om na die groot stad(staat) van Nineve toe te gaan en te verkondig wat die HERE hom beveel (v.2). Jona het toe gereedgemaak en op God se bevel gegaan na die ontsaglike groot stad (letterlik groot voor God). Dit het drie dagreise per voet geneem om daardeur te loop (v.3). Jona het een dagreis ver in die stad ingegaan en begin preek en gesê: Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes (v.4. Die getal veertig is dikwels in die Woord ’n getal van toetsing en beproewing). Die mense van die wrede stad, Nineve, het verbasend genoeg God se boodskap deur sy profeet geglo en ’n vasdag uitgeroep. Groot en klein het dit ook bewys deur ’n rougewaad aan te trek wat daarop dui dat hulle nie maar net wou aangaan met hul gewone lewe nie (v.5).

Hierdie berig het ook die koning/goewerneur van Nineve bereik. Selfs hy het opgestaan van sy troon af as teken van respek en boonop sy koninklike mantel afgehaal en klere van rou aangetrek en as koning selfs in die as gaan sit as teken van sy bedelaarskap. Hy het ook ’n bevel laat uitroep en gesê: Op las van die koning saam met die groot manne (edeles: “nobles”): Geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie. Dit het beteken dat selfs die diere saam met die mense nie mag eet soos gewoonlik of water drink nie. Mens en dier moes ’n rougewaad om hê as bewys dat hulle alle normale versiering eenkant laat. Hulle moes ook ernstig tot God roep, saam met hulle liggaam wat uitroep vir voeding. Daarmee saam moes elkeen hulle van hul verkeerde weg en onreg bekeer wat deel van hul lewe geword het (v.6-8). Die koning se hoop was dat God hulle dalk sou jammer kry en hulle nie in sy toorn laat vergaan nie. God het ook inderdaad hulle werke van bekering gesien en Hom omgekeer (berou gehad) van dit wat Hy sou doen oor hul sonde en dit nie gedoen nie (v.9-10).

Besprekingsvraag: Wat is die tekens van ware verootmoediging in iemand se lewe?

Oorsig: God se oordeel is ’n werklikheid oor sonde en daarom is verootmoediging en bekering onder mensekinders nie ’n opsie nie. Nineve, later hoofstad van Assirië wat Israel sou wegvoer, was bekend vir hul wreedheid. Hulle was boonop deel van die Assiriese imperiale projek om deur vrees, wreedheid en onreg te onderdruk, te verower en te heers. ’n Honderd jaar later het die Here hulle deur die profeet Nahum finaal daaroor veroordeel (vgl. Nahum). Maar hier het hulle nog geleentheid vir omkeer gehad en hulle het die geleentheid van die proeftyd van 40 dae aangegryp.

2023/12/13

’n Ware getuie van die koms van Christus

Lees: Joh. 1:6-8, 19-28

Gedagte vir kinders: Gestuurdes van die Here wys nie na hulleself nie, maar na Jesus Christus.

Oorsig: Johannes begin sy Evangelie deur te vertel van die Woord, Jesus Christus, wat in die begin by God was en self ook God was (v.1-4). Hy vertel dan dat daar in Hom die lig van die lewe was. En dan slaan die evangelieskrywer oor om te wys op ’n man wat deur God gestuur was en wie se naam Johannes (die Doper) was. Johannes was self nie die lig nie, maar moes kom om van die lig, Jesus Christus, te getuig (v.6-8). Johannes het begin deur die wêreld in opskudding te bring deur mense tot bekering te roep en hulle te doop in die Jordaan, ver weg van Jerusalem waar die tempel was. Dit het herinner aan Esegiël (36:25) se belofte dat die Here eendag skoon water op hulle sou giet dat hulle rein kan word. Johannes was boonop aangetrek soos Elia (vgl. 2 Kon. 1:8) en die mense het gewonder of hy die Elia is wat die Here belowe het deur Maleagi (Mal. 3:1; 4:5) en wat voor Hom sou uitgaan.

Die Jode het toe uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur om hom te vra: Wie is u? (v.19). Johannes het dit toe baie duidelik erken dat hyself nie die Messias (die Christus) is nie (v.20). Hulle vra hom toe of Hy Elia is (vgl. Mal. 4:5) en of Hy die profeet is (vgl. Dt. 18:15-22). Telkens het hy nee geantwoord (v.21). Dit is dus duidelik dat Johannes oor drie sake pertinent nee geantwoord het: Hy is nie die Christus, of Elia self wat weer opgestaan het, of die Profeet wat Moses belowe het nie. En toe vra hulle hom wie hy dan wel is sodat hulle antwoord kan gee aan die wat hulle gestuur het (v.22).       

Johannes het toe geantwoord dat hy die stem is van een wat roep in die woestyn soos die profeet Jesaja (40:3) het: Maak die pad van die Here reguit. Dit beteken dat hulle gereed moes maak om die Here te ontvang (v.23). Die wat gestuur was, was uit die Fariseërs. Dit was ’n beweging wat die toewyding aan God onder die mense wou vernuwe, maar hulle het dit gedoen deur allerhande bykomstige dinge uit hulle tradisie by die Here se Woord te voeg. Hulle vra hom toe waarom hy die mense doop as hy dan nie die Christus of Elia of die profeet was nie (v.24-25). Johannes het hulle toe geantwoord dat hy wel met water doop, maar dat onder hulle Iemand staan wat hulle nie ken nie. Hierdie een het na hom gekom, maar het voor Hom geword en hy is nie eens waardig om sy skoenriem los te maak nie (v.26-27). Dit alles het gebeur in Betábara aan die oostekant van die Jordaan waar Johannes besig was om te doop (v.28). Dit is waar die volk aanvanklik in die land Kanaän ingekom het.

Besprekingsvraag: Watter redes was daar om Johannes die Doper as eg te beskou?

Insig: Jerusalem, met hul Sanhedrin en die gestuurde priesters en Leviete en Fariseërs in die agtergrond, neem kennis dat daar ver by die Jordaan iets aan die gang is. As geestelike leiers was hulle veronderstel om die tekens te onderskei. Hulle moes tog voorgeloop het om na te speur oor die koms van die Messias en sy boodskapper met optrede wat daarmee in lyn is. Mag en posisie en eie tradisies en gebruike wat die Woord ontkrag, lei egter tot geestelike blindheid en kollektiewe illusies. 

2023/12/07

Wanneer die hemel skeur

Lees: Mk. 1:1-13

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus se koms is goeie nuus vir die hele wêreld.

Oorsig: Die evangelie volgens Markus word soms die haastige of dringende evangelie genoem. Markus val ook sommer met die deur in die huis: Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God (v.1). Dit is alreeds ’n mondvol. Die woord “begin” laat dink ons aan die begin van die skepping. Markus dui aan dat hy nou van ’n nuwe begin gaan praat wat moontlik geword het deur die evangelie (blye nuus) oor die ware Seun van God. In daardie tyd is ’n keiser beskou as ’n gode-seun en dat sy regering goeie nuus vir die wêreld was. Markus dui nou aan dat hy van die ware goeie nuus gaan vertel oor die ware Koning.

Markus wys dan daarop dat daar in die profete (Jesaja 40:3) geskrywe is dat die Here sy boodskapper sou stuur wat sou uitroep dat die weg van die Here dringend gereed gemaak moet word in die woestyn (v.2-3). Uiteindelik het Johannes die Doper toe gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sonde te verkondig (v.4). In daardie tyd is mense uit ander nasies wat hulle tot die God van Israel bekeer het, so gedoop, maar hier word mense uit die hele Israel en Jerusalem deur hom gedoop in die Jordaanrivier terwyl hulle hul sonde bely (v.5). Deur die Jordaan het Israel destyds in die beloofde land ingekom het en hier het mense deur Johannes ’n nuwe begin met God gemaak.   

Johannes die Doper was gekleed met kameelhare en ’n leergordel om sy heupe en het sprinkane en wilde heuning geëet (v.6). Hy het so herinner aan die klere van die profeet Elia oor wie daar groot beloftes was dat iemand soos Hy weer sou optree (vgl. 2 Kon. 1:8; Mal. 4:5-6). Johannes het vir die mense gesê dat Een wat sterker is ná Hom kom en dat hy nie eens waardig is om soos ’n slaaf sy skoenriem los te maak nie. Hy sou nie soos Johannes die mense met water doop nie, maar eerder met die Heilige Gees (v.7-8). In daardie dae het Jesus van Nasaret in Galilea gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. En dadelik het daar toe iets baie groot gebeur. Toe Jesus opklim uit die water, het die hemel geskeur (vgl. Jes. 64:1) en die Heilige Gees het soos ’n duif op Hom neergedaal (v. 9-10). Daar het ook ’n stem uit die hemel gekom: U is my geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het (v. 11; vgl. Ps. 2:7; Jes. 42:1). Die Heilige Gees het toe vir Christus uitgedryf in die woestyn. Jesus Christus het vir veertig dae in die woestyn die satan trotseer en is versoek. So het Hy vir ons verlossing van die begin af gestry. Hy was daar saam met die wilde diere en die engele het Hom gedien (v.12-13).

Besprekingsvraag: Hoe sien ons die Drie-enige God raak in die doop van Jesus Christus?

Insig: Johannes die Doper staan met sy een voet in die Ou Testament en die ander in die Nuwe Testament. Hy verteenwoordig die oorgang tussen die ou en nuwe verbond. Dit gaan hier oor ’n aardskuddende gebeurtenis en dit word bevestig deur die hemel wat skeur (v.10; vgl. Jes. 64:1). Keiser Oktavius se geboorte is in 9 v.C. besing as blye nuus (evangelie) wat die gelaat van die wêreld vir altyd sou verander. Maar hier word die ware Verlosser bekend gestel wat die ware vervulling van God se beloftes is. Die rabbi’s het iets van die nood van die wêreld besef deur die mense te leer dat jy nog nie gebid het as jy nie gebid het vir die koms van die Messias nie. Steeds laat die Here ons vandag in situasies kom om ons te laat besef hoe nodig ons die Messias het. Markus vertel ons van die goeie nuus van die ware Messias en die radikale nuwe ding wat God in die wêreld kom doen het deur sy Gesalfde.