2021/12/10

Die kleinste is groter

Lees: Luk. 7:18-35

Gedagte vir kinders: Deur Jesus se kruis kan ons huil oor ons sonde en lag oor ons verlossing.    

Oorsig: Hierdie gedeelte toon drie duidelike dele. In v.18-23 lees ons van Johannes die Doper se vraag aan Jesus asook sy antwoord daarop. Daarna gee Hy aan hulle ’n beoordeling van Johannes die Doper en ons hoor die mense se reaksies (v.24-30). En dan hoor ons die Here Jesus se reaksie op die mense se reaksies op sy bediening en die van Johannes as sy voorloper (v.31-35).   

Johannes was ’n profeet, maar profete word nie lank verdra as hulle mense se sonde aantoon nie. Johannes die Doper was in die tronk omdat hy selfs koning Herodes vermaan het omdat hy sy broer se vrou afgeneem het. En daar sit hy toe in die tronk en hoor van die dade van die Messias, maar alles gebeur nie presies soos wat Johannes verwag het nie. Heel moontlik het Johannes, soos ons, verwag het dat dinge vinniger en kragtiger moes gebeur sodat God se koninkryk duidelik sou deurbreek in hul eie omstandighede. Die Here Jesus wys egter op sy kragtige dade van genesing. Daarmee het Hy bevestig dat hy die werk doen waaroor profete soos Jesaja reeds lankal geprofeteer het (Jes. 35:5-6; 26:19; 29:18-19; 61:1). Daarmee het hy aan Johannes en ander bevestig dat Hy wel besig was om die Skrifte te vervul en dat Hy wel die Messias is en dat elkeen salig is wat nie aanstoot neem aan Hom nie (v.23).

Die Here Jesus het toe vir die skare aangedui dat Johannes die Doper ’n baie besondere profeet. Hy was die vervuller van Maleagi se profesie en daarom die voorloper van die Messias (vgl. Mal. 3:1; v.27). Niemand in die Ou Testament was groter as hy nie, juis omdat hy op die Messias gewys het. En tog het die Here Jesus iets merkwaardig hierby gevoeg. Hy het gesê dat die kleinste in die koninkryk groter is as Johannes die Doper. 

2021/12/03

Aangename offers aan God

Lees: Mal. 2:17-3:1-7

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het gekom om ons deeglik van al ons sonde te reinig.   

Oorsig: Die profeet Maleagi is die laaste profeet van wie ons lees in die Ou Testament. Maleagi se woorde bestaan uit ses strydgesprekke wat hy met die volk voer. Hierdie strydgesprekke gaan oor tipiese uitsprake wat die volk oor God gemaak het. Dit was in die tyd nadat die volk teruggekeer het uit die ballingskap na hulle eie land. Dit was moeilike tye, maar die volk was glad nie onskuldig nie. In hoofstuk 2:17 lees ons van die vierde strydgesprek. Maleagi wys daarop dat die volk God vermoei met hulle woorde. As hulle besonderhede vra, antwoord hy dat hulle sê dat die Here nie die slegte dinge oordeel nie en van kwaaddoeners hou. Hulle vra ook waar die God van reg is (2:17).

Die profeet se antwoord hierop is dat die Here sy boodskapper voor Hom uit sal stuur wat die pad vir Hom sal voorberei. En dan sou hulle ’n geweldige ding beleef. Die Here na wie hulle soek, sou skielik self na hulle kom. Hy word hier genoem die Engel van die verbond na wie hulle ’n begeerte het. Hulle moes weet dat Hy kom en dat die Here van die leërskare dit self bevestig het (v. 1). Maar hulle moes weet dat die dag van sy koms anders sou wees as wat hulle gedink het. Niemand sal kan standhou as Hy verskyn nie. Twee beelde word gegee om te verduidelik wat die Here sal doen – die beeld van die smelter en van wassers (v.2). Dit beteken dat hulle gesuiwer sal word. Hierdie reiniging sal begin by diegene wat veronderstel is om die reiniging aan Israel te bedien – die seuns van Levi wat die priesters van Israel was. Die Here sal hulle reinig en louter sodat die offers aan die Here reg sal wees (v.3).

2021/11/25

Groot en ondeurgrondelik

Lees: Jer. 33      

Gedagte vir kinders: Wanneer die Here sonde vergewe, is daar groot vreugde in ons harte  

Oorsig: Die profeet Jeremia was opgesluit in die voorhof van bewaking van die koning. Dit was in die tyd toe Babel besig was om Juda te verwoes en in te neem. Daar in die voorhof het die Here alreeds aan Jeremia geopenbaar dat hoewel Juda as gevolg van hulle sonde swaar gestraf sou word, hulle uiteindelik sou terugkeer en wonderlike seën van die Here sou belewe. En toe kom die Woord van die Here vir ’n tweede keer tot Jeremia daar in die voorhof.

Hierin bevestig die Here eerste wie dit is wat spreek en dan bevestig Hy dat Hy, die Een wat kan, aangeroep moet word wat groot en ondeurgrondelike dinge bekend maak (v.2-3).  Hy bevestig eerstens dat dit Hy is wat die verwoesting en onheil oor Jerusalem gebring het (v.4-5). Dan herhaal Hy sekere gedagtes oor die wonderlike herstel wat ook in die vorige hoofstuk genoem is. Daar sal genesing kom en die lot van Juda en Israel sal verander (v.6-7). Die rede is dat die Here hulle sal reinig en vergewe en so sal daar weer vreugde in Jerusalem wees en die nasies sal met emosie daarvan kennis neem (v.8-9). Hierna weerklink twee maal die woorde: So Spreek die Here. Telkens word daar gewys op hoe die volk “sonder” mense en inwoners is, maar dan word twee beelde gebruik om te wys op wat God sal gee – die beeld van bruidegom en bruid en van herder, kudde en vredevolle landskap (v.10-13).

Die volgende beeld wat gebruik word is baie kragtig. Daar word gewys op die beloftes oor die koningshuis van Dawid. Daar sal Iemand kom wat reg en geregtigheid doen in die land en wat die rede sal wees vir die genesing en herstel van Juda en Israel. Jerusalem sal genoem word met ’n baie spesifieke Naam wat vroeër aan die Een wat kom, gegee is (Jer. 23:5-6): DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Dit beteken dat die verlostes deel sal kry aan die geregtigheid van die Here wat in die Messias gesetel en uit die Here self afkomstig is (v.14-16). 

2021/11/18

Hemelvaart en heerskappy

Lees: Daniel 7                 

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is die Koning en sterker as enige koninkryk op aarde.    

Oorsig: Ons ken die eerste deel van die boek Daniel (hfst.1-6) redelik goed wat oor Daniel en sy vriende in Babel gaan. Ons is minder bekend met die tweede deel (hoofstuk 7-12). Dit handel oor gesigte wat die Here aan Daniel gegee het oor wat verder sal gebeur in die wêreldgeskiedenis. Soos Openbaring word dit soms apokaliptiek genoem en beteken letterlik (apo+kalipsis) dat die bedekking weggeneem word. Dit hou dikwels verband met die einde van bepaalde eras en die voleinding van die wêreld (eskatologie) of eras wat daarna heenwys.

In Daniel 7 lees ons van Daniel se gesig van vier wêreld-koninkryke. Dit kom baie ooreen met die gesig van die beeld van Nebukadneser (Dan. 2). Ons kan Daniel 7 breedweg in twee dele indeel. Vers 1-14 handel oor die gesig en vers 15-28 handel oor die verklaring daarvan. Daniel vertel van die gesig  van vier groot gediertes wat uit die see opklim (v.1-8). Ons hoor van (1) ’n  leeu met vlerke soos ’n arend. Dan hoor ons van (2) ’n dier wat lyk soos ’n beer met drie ribbes in sy bek. Hierna is daar (3) ’n dier soos ’n luiperd met vier vlerke en vier koppe (vgl. ook Op.13:1). Die vierde dier (4) was vreeslik en skrikwekkend en sterk met groot ystertande. Dit was verskillend van die vorige diere en het tien horings gehad. Tussen hierdie horings het daar ’n ander klein horinkie opgekom wat drie ander ontwortel het en baie groot gepraat het.  

Hiermee saam sien Daniel vir God (die oue van dae – ancient of days) op die troon en praat daaroor in simbole-taal (v.9-10).

2021/11/09

Opstanding, lewe, en versadiging van vreugde

Lees: Psalm 16   

Gedagte vir kinders: God se kinders kan bly wees, want Jesus Christus het die dood oorwin.

Oorsig: Hierdie Psalm, tesame met Ps. 56-60, word spesifiek ’n gedig genoem. Sommige Skrifverklaarders reken dit bedoel iets soos ’n spesiale inskrywing of geheimenis. Wanneer ons in gedagte hou dat hierdie Psalm deur beide Petrus en Paulus gebruik word om te wys op die opstanding van Jesus Christus uit die dode (vgl. Hd. 2:25-32; Hd. 13:35-39), maak iets soos geheimenis of spesiale inskrywing vir ons sin. Hierdie Psalm spreek van Dawid, maar heenwysend ook na die groter Seun van Dawid. Dit spreek ook van gelowiges wat deel het aan Christus, maar sekere verse soos vers 8-11 kan net van die Messias eerste waar wees. Deur Jesus Christus kan dit nou ook waar wees en word van elke gelowige wat deel het aan Hom. Sy opstanding uit die dode word uiteindelik die heerlike werklikheid van elke gelowige.

Ons kan die Psalm breedweg in twee dele verdeel. In die eerste deel (v.1-7) hoor ons die woorde van alle gelowiges wat saam met Dawid deel het aan Jesus Christus. Ons hoor van gebed tot God om bewaring in omstandighede waarin die dood dreig. (v.1) en die belydenis dat die HERE die hoogste goed is (v.2). Hierin skaar die Psalmis hom by diegene wat ook soos hy glo en die Here wil dien. Dit is die mense met ware heerlikheid van wie hy baie hou (v.3). Hy stel dit bewustelik op teenoor diegene wat ’n ander god vereer of ook vereer. Sulke mense sal ellende beleef en hy wil geen deel aan hulle aanbidding hê nie. Hy sal nie eers sulke mense se name op sy lippe neem nie (v.4). Dan keer hy terug na wat vir hom vol waarde is.

Derrick Peterson oor die Drie-eenheid

Derrick Peterson skryf vinniger as wat ek kan lees en lees vinniger as wat ek kan dink. Hy laat die meeste van ons perspektief kry oor ons eie gawes. Dit beteken nie dat ’n mens hom daarom oor alles met toe oë moet vertrou nie, maar hy is wel ’n belangrike en gewaardeerde gids op sekere temas soos die Triniteit en die verwantskap tussen geloof en wetenskap. Hy het onlangs op sy facebook-blad die volgende handige riglyne gegee oor sy skryfwerk oor die Triniteit. Dit is die moeite werd om dit hier langer leeftyd te gee, aangesien Peterson 'n belangrike verwysingspunt is wat kan help om hieroor nugter en waarderend te bly. Hier is Peterson se woorde oor sy skryfarbeid tot dusver, oorgeklank in onse taal:  

[Kyk gerus na my werk] genaamd The Parting of God: Diagnosing The Fate of Divine Simplicity in 20th Century Theology (wat in 'n heeltemal bygewerkte en meer gepoleerde vorm gevind kan word in die geredigeerde bundel The Lord is One onder redaksie van Joseph Minich, saam met 'n tweede metgesel-opstel van my, A Sacred Monster: On the Secret Fears of Recent Trinitarianism. Albei is dele van 'n (veel) groter projek wat ondersoek instel na hoe geskiedskrywing, historiese teologie en sistematiese teologie alles saamwerk - veral hier in terme van die leerstelling van die Drie-eenheid…

Ander voorbeelde van die projek kan op my academia.edu-bladsy gevind word - sodat die familie van opstelle (in geen spesifieke volgorde nie) die volgende is, alhoewel ’n mens my boekresensie van Darren Sarisky se Theologies of Retrieval as 'n soort voorwoord kan hanteer. Dan 1) A Sacred Monster 2) The Parting of God 3) Between Sublime and Machine 4) die opstel No True Scotsman oor Duns Scotus se plek in groot verhale oor die vorm van geskiedenis, 5) A Loud Absence (wat 'n soort bylaag is tot spesifiek A Sacred Monster) asook 6) A Graduated Splendor wat iets van 'n bylae is. My boekresensies van Stephen Holmes se The Quest for the Trinity, Paul C.H. Lim se Mystery Unveiled: The Crisis of the Trinity, Matthew Bates se The Birth of the Trinity en Wesley Hill se Paul and the Trinity kan almal behandel word as bylaes wat ook wag vir meer uitgebreide behandelings deurdat elkeen oor een of twee sleutel-aspekte van historiese temas handel en wat onderontwikkel in huidige behandelings is. En as 'n soort gevarieerde oorsig is Gods, August and Otherwise: How Neo-Thomism Affected the Trinitarian Renaissance ook deel van die ander werke.

2021/11/05

Halleluja wat jou oopmaak

Lees: Psalm 146            

Gedagte vir kinders: Loof die Here uit die dieptes van jou hart, ook as jy nie reg voel nie.

Oorsig: Psalm 146 begin en eindig met die woord “Halleluja”. Om die waarheid te sê, vanaf Psalm 146 tot en met die einde van Psalm 150, begin en eindig elkeen van die laaste vyf Psalms met die woord “Halleluja”. Dit beteken letterlik: “Loof die HERE!” Dit gaan daaroor dat die Here met heilige jubeling besing word vanuit die diepste van jou wese.

In die Psalms het ons met mense te make wat eerlik is oor hul emosies. Ons hoor dikwels van teëspoed, worstelinge, aanvegtinge, sondebesef, hartseer, terneergedruktheid, en klaagliedere. Maar feitlik altyd werk die Psalms deur na hoop en lofprysing aan die einde. En waar dit nie so eindig nie (byvoorbeeld Ps. 88), bevat net die volgende Psalm die wonderlikste elemente van hoop en lof. Gelowiges is dus nie gevrywaar van beproewinge nie, maar daar word altyd deurgewerk na die punt van geloof, hoop en danksegging. Die Psalms as geheel eindig in die groter prentjie ook so met die laaste vyf Psalms wat reën met Hallelujas. Dit bied ook 'n prentjie op die einde van elke gelowige. Dit wys ons ook hoe gebede eindig wanneer gebed lank genoeg aanhou.

2021/11/03

Terugskouing en vooruitskouing op C-19

Vanoggend weer afgekom op die volgende boodskap wat op 9 April 2020 aan ons dosente en studente uitgestuur is. Die Corona-pandemie/histerie was toe nog net onlangs in swang. Belangriker, ons was oppad om weer Paasfees te vier. 

Geagte BA en NGOS dosente en studente 

Hier waar ons byna op die vooraand van Goeie Vrydag is, staan ons stil by Jes. 26:20: "Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan."

 Jesaja verwys na God se oordeel in sy tyd wat die inwoners van die aarde geregtigheid sou leer. Dit klink baie toepaslik, maar om dit hier, net voor Goeie Vrydag en in die virus-tyd, vir ons toe te pas in die lig van die hele Bybel, moet ons op twee sake let: 1. Skuiling in tye van God se oordeel en 2. Skuiling by die plek wat God aangedui het.

1.       Skuiling in tye van God se oordeel

Die patroon van oordeel en skuiling vir gelowiges is duidelik in die Bybel. God bring sy oordeel, en Noag gaan skuil in die Ark. God bring sy oordeel oor Egipte, en die Israeliete gaan skuil in die huise met bloedbestrykte kosyne. God bring oordeel oor Jerigo, en Ragab en haar huis skuil in die huis met die rooi tou wat sterk herinner aan die vroeëre huise met rooi deurposte. Ook in Jesaja se tyd lees ons daarvan. Dit herinner sterk aan die verlede, maar wys ook heen na die toekoms, want die volk word hier spesifiek opgeroep word om in hul binnekamers te gaan. Die Here Jesus verwys waarskynlik ook hierna wanneer Hy in die bergpredikasie in Mt. 6:6 ons oproep om na die binnekamer te gaan vir gebed. En dit sluit natuurlik ook aan by die Psalms waar die Here soveel keer aangeroep word as Rots, Skuilplek of Bergvesting. En soos die bekende Spreuke 18:10 dit stel: “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” Vriende, laat ons dan in hierdie tyd onthou dat daar in tye van oordeel altyd ’n besondere skuilplek in die Naam van die Here is, in besonder daar in ons binnekamers waar ons Hom aanroep. As daar een ding is waarvoor ons die inperkingstyd kan gebruik, is dit hiervoor.

2.       Skuiling by die plek wat God aangedui het.

Die gedeelte in Jesaja is ook duidelik ’n terugverwysing en die besondere toepassing vir ons, veral hier op die vooraand van Goeie Vrydag, is die skuiling wat die Israeliete gehad het tydens die Paasfees met die dood van die eersgeborenes in Egipte. Die HERE sou met sy oordeel by huise verbygaan, net as hy die bloed van die paaslam aan die deurposte sien (Ex.12:13,22-23). Niks anders sou die oordeel weghou nie – nie die sogenaamde karakter van die mense wat binne was, of die sterkte van die huis, of die sogenaamde geneesmiddels wat mense gebruik het nie, want dit alles was steeds met sonde bevlek.

2021/10/29

Wanneer die aarde waggel

Lees: Psalm 46   

Gedagte vir kinders: Geen skrik op aarde kan Christene skei van God se beskerming nie.  

Oorsig: Hierdie Psalm beskryf die vaste sekerheid wat gelowiges selfs in die grootste benoudhede mag hê wat oor die aarde kom. Die Psalm vertoon drie dele wanneer ons let op die drie selas (vgl. v.4,8,12). Die woord sela gaan oor ’n ruspose vir diep nadenke, sodat dit in jou hart kan insak voordat daar verder beweeg word.    

In die eerste gedeelte (v.1-4) word gefokus op God as toevlug en sterkte. Ons lees eerste van musiekaanduidings. Daar is sprake van ’n musiekleier, die kinders van Korag (vgl. 1 Kron. 9:2,19), sopraanstemme en ’n lied (v.1). Hierdie lied moet dus georganiseer word om reg daaraan te laat geskied. Dit begin met die belydenis oor God as (1) toevlug en (2) sterkte. Hierin is Hy al baie op die proef gestel en nog altyd was die uitslag dieselfde (v.2). Daarom sal gelowiges nie vrees nie, selfs wanneer die skepping self dreig om uit mekaar te val (v.3). Die Psalmis nooi selfs uit dat dit moet gebeur en dan vind ons die eerste sela (v.4)

In die twee gedeelte (v.8-11) word uitgebrei op die effekte van God se teenwoordigheid. Daar is stroompies van ’n rivier wat Jerusalem as stad van God bly maak. Dit verwys na die rustige en lewegewende water, te midde van die onstuimigheid, wat gevind word in die Godstad, met ander woorde daar waar God woon, en wat blydskap bring (v.5). Omdat God daar is, sal dit nie wankel nie en sal sy hulp daar wees as die dag breek (v.6). Die Psalmis wys dan daarop dat nasies al gebruis het en koninkryke gewankel en die aarde gebewe het as God sy stem verhef het. (v.7). Hy bevestig dan dat die Here van die leërskare, ook genoem die God van Jakob, met die gelowiges is, ’n rotsvesting is, en dan volg die tweede sela.

Die derde gedeelte (v.9-12) begin met ’n uitnodiging. Kom aanskou die skrikwekkende dade van die Here (v.9). Hy laat oorloë ophou oor die hele aarde en Hy doen dit deur die oorlogwerktuie tot niet te maak. Hierdie grootse dade lei dan tot ’n oproep om te “laat staan”, dit wil sê op te hou, met sekere gedrag. Hierdie gedrag kan opstand teen God wees, of angstigheid of murmurering. Die Here bevestig hierna dat Hy hoog sal wees onder die nasies  (of heidene) en hoog op die aarde (v.11). Die Psalmis sluit dan af met dieselfde belydenis van vers 8:

2021/10/22

Vreugde deur herinnering, gebed, en belofte

Lees: Psalm 126            

Gedagte vir kinders: Saai, al is dit met trane, want deur Jesus Christus sal jy oes met vreugde.

Oorsig: Psalm 126 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Die Psalm het duidelik twee dele. Ons hoor eers van ’n wonderbaarlike bevryding toe die Here die lot van Sion verander het (v.1-3) en dan van ’n nuwe gebed en profesie (v.4-6). Sion was die berg waarop die tempel gebou is en staan hier vir die kinders van God wie se versoening met Hom op sy  geopenbaarde weg van versoening gebou is. Die lot van Sion gaan dus oor die omstandighede van sulke mense wat wonderlik verander het.

Die spesifieke omstandighede hier verwys waarskynlik na die terugkeer uit die ballingskap. Die volk se ontrou aan die Here het veroorsaak dat die tien stamme van Israel deur Assirië (721 v.C.) weggevoer is, en Juda en Benjamin later deur Babilonië (598-587 v.C.). Uiteindelik, na 70 jaar (vgl. Jer. 25:11; 29:10; Dan. 9:2; 2 Kr. 36:22; Esra 1:2) in Babel en omstreke,  het koning Kores, wonder bo wonder, ’n bevel uitgevaardig en die volk kon terugkeer na hulle eie land en hulle kon God weer in vryheid aanbid.

Die volk het beleef dat die Here hulle lot verander het en dit was asof hulle droom (v.1) Wat ‘n vreugde het hulle nie hieroor beleef nie! Lag en jubel was in hulle mond en op hulle tong. (v.2). Selfs die heidene het daaroor gepraat. Dit was so groot dat die heidene nie anders kon as om raak te sien dat God groot dinge aan sy volk gedoen het nie (v. 2). Die Psalmis bevestig dan dat die Here wel groot dinge aan hulle gedoen het en dat hulle bly was (v.3).

Net hierna verander die herinnering aan die verlede na ’n gebed in die hede. Daar is nuwe uitdagings.  Indien dit die volk was wat teruggekeer het, was daar soveel nuwe hindernisse in die land wat hulle weer moes opbou. Die Psalmis vra dat iets sal gebeur soos die waterstrome in rivierbeddings wat in die droë Suidland skielik kon opdaag vanuit die hoërliggende gebiede en lewe gebring het in die woestyngebied (v.4). Ná die gebed word daar ook ’n profesie uitgespreek. Die wat bly saai, al is dit met trane, sal tog later jubel wanneer daar geoes word. (v.5).  Die Psalmis brei dan verder hierop uit in beskrywende taal. Die saaier mag selfs heeltyd loop en huil as hy die saadkoring dra wat hy uitsaai. Tog sal hy sekerlik, en die woord sekerlik word beklemtoon, met gejubel later kom en die gerwe van sy oes dra (v.6).         

Besprekingsvraag:  Pas die faktore wat die saaier kan verhinder om te saai, op ons toe. 

Insig: Wanneer die Here ons lot werklik verander, gebeur dit bokant die verwagting. Dit is part en deel van die evangelie en beeld presies uit wat evangelie beteken.

2021/10/21

Boekbespreking: Joyce Little, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order (1)


Wanneer ’n publikasie reeds in 1995 verskyn het, en dit spreek in 2021 steeds asof dit gister geskryf is, het iets merkwaardig plaasgevind. Dit is die indruk waarmee Joyce Little ’n mens agterlaat in haar publikasie, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order. Hoewel Little vanuit Rooms Katolieke perspektief skryf, is verreweg die meeste elemente wat sy hanteer ook vir Protestante van waarde. Ook waar ’n mens in Protestantse forsheid verplig voel om die stem te laat hoor, is daar moontlikhede om die saak om te bou tot iets wat steeds waarde het. Die rede is dat Little op besondere wyse die hedendaagse wêreldbeskouing uitpak en punt vir punt weerlê met die antiek-tydlose benadering wat oor eeue heen kom. Little  toon oortuigend aan hoe al die bekende mantras van ons dag eintlik maar net ’n (wan)orde verteenwoordig wat streef om ’n alternatief te bied op die oorspronklike orde van God. Uiteindelik kom dit neer op die heilige orde van God wat verruil word vir sekulêre anargie. Volgens Little skep sekulêre anargie weer al die redes vir een of ander vorm van tirannie wat dan noodwendig moet oorneem om ’n mate van orde te herstel.   

Boute en moere van twee teenoorstaande ordes

In sewe hoofstukke gaan Little stelselmatig te werk om die verskillende elemente uitmekaar te haal wat opgestel word teen God se heilige orde vir die samelewing en wat die Kerk veronderstel is om te verkondig en te bewaar. Op treffende wyse lei sy in deur die hedendaagse konsep van mag vanuit veral die feminisme in teenstelling te bring met die konsep van gesag. In die opvolgende hoofstukke hanteer sy abstrakte taal teenoor geïnkarneerde taal (hfst. 2); syfer teenoor sakrament (hfst. 3), gelykstelling teenoor hiërargie (hfst. 4); keusevryheid teenoor selfgeskenkte vryheid (hfst. 5); outonomie teenoor kerklike moederskap (hfst. 6); en feministiese suspisie teenoor die vertroue van Maria as uiting van ’n nuwe Eva en van die Kerk (hfst. 7). Little sluit die werk af met ’n epiloog waarin sy twee films (Crimes and Misdemeanors vs. Groundhog Day) naby aan 1995, met mekaar vergelyk en waarin sy die uiteenlopende wêreldbeskouings in die twee films aantoon. Elkeen van Little se hoofstukke verdien selfstandige behandeling en diep nadenke. Little se boek is daarom die tipe werk wat maklik met rooiwyn gepaard sou kon gaan. Hierdie publikasie bied werklik die geleentheid vir opvoedingsinstansies om meer grondliggend na te dink oor die sogenaamde waardes wat elke instelling belangrik ag. Reeds die woord, waardes, wat ook deur een van Little se hoofstukke met Orwelliaanse nuutspraak (Orwellian newspeak) in verband gebring sou word, behoort ons te laat oorweeg of die woord norme nie ’n beter keuse is nie. En verder sou Little se werk kon help om die normes en waardes as boute en moere van ’n bepaalde wêreldbeskoulike enjin uitmekaar te haal en stuk vir stuk in oënskou te neem. In hierdie aflewering word daar oorsigtelik op die eerste hoofstuk ingegaan.

2021/10/15

Rus, roeping, en rykdom in die nuwe verbond

Lees: Hebr. 4:1-16         

Gedagte vir kinders: Glo en geniet God se rus deur Jesus Christus.   

Oorsig: Hebr. 3 het aan die hand van Psalm 95 reeds gewys op die voorbeeld van die Israeliete wat gered was uit Egipte, en tog nie die rus van Kanaän ingegaan het nie. Hoofstuk 4 bou hierop voort. Christene wat deel geword het van die nuwe verbond in Christus, moet met goddelike vrees seker maak dat hulle nie soos die Israeliete in die woestyn afvallig raak en die Here se beloftes van rus mis nie (v.1). Daar is ’n sin waarin die evangelie aan die Israeliete en aan ons verkondig is. Die rede is dat ook hulle die Here se beloftes gehad het. By hulle het hul wel die Woord van God gehoor, maar dit was nie met die geloof verenig nie (v.2). Die wat wel glo in die beloftes van God en daarom gehoorsaam, gaan sy rus in.

Die Hebreërskrywer gaan dan voort om te verduidelik wat hierdie rus, wat hy later ook sabbatsrus (v.9) noem, beteken. Daar is eintlik drie maniere waarop hierdie rus ter sprake is. Daar is (1) die rus waarvan ons by die skepping lees op die sewende dag (v.4). Daar is ook (2) die rus wat die volk voorlopig kon beleef met die intog onder Josua in die beloofde land Kanaän (v.8). Die Psalmskrywer maak ons bewus van (3) ’n verdere rus met ’n nuwe toepassing vir “vandag” ná Kanaan (v. 7-9). Kanaän is dus ’n tipe en heenwysing na ’n ander groter rus, want anders sou daar na Josua nie meer nodig wees om van ’n ander “vandag” te spreek nie (v.7-8). Dit is die sabbatsrus wat eenmaal in sy volheid waar sal wees op die nuwe hemele en die nuwe aarde (vgl. v. 9). Ons kan nou reeds in beginsel in die rus deel deur die geloof in God se beloftes wat in Christus ook ons deel is.

2021/10/07

Om vandag te glo, te rus, en te gehoorsaam

Lees: Hebr. 3:12-19       

Gedagte vir kinders: In moeilike tye, leef in die geloof en hou vas aan God se beloftes.

Oorsig: In die voorafgaande gedeelte het die Hebreërskrywer gefokus op die onoortreflike heerlikheid van Christus as Gestuurde en Hoëpriester van ons belydenis (3:1). Hy het spesifiek daarop gewys dat Christus soveel voortrefliker is as Moses, die middelaar van die ou verbond. Moses was maar net ’n dienskneg van die huis, maar Christus is die Seun en Bouer van die huis wat God oprig (3:3-4; 5-6). En nou wys die Hebreër-skrywer verder op wat God in Psalm 95:7-11 gesê het van mense van die ou verbond wat ongelowig en ongehoorsaam was aan God nadat hulle reeds soveel van God beleef het.  

Die Hebreër-skrywer pas hierdie gebeure met mense van die ou verbond nou toe op die gelowiges van die nuwe verbond. Hulle het soveel meer as Moses. Hulle het die enigste Hoëpriester en Seun van God as hulle Middelaar. Hulle loop die gevaar om in dieselfde toestand te beland as die volk van die ou verbond. Hulle het die Here se kragtige werke gesien, dit selfs gesmaak en geproe. En tog, by die eerste hindernis en weerstand in die woestyn, toe daar geen water was om drink  in die woestyn Sin, daar by Massa en Meriba nie (Vgl. Eks. 17:1-7; Ps. 95:8), het hulle met Moses getwis en gewonder of die Here wel in hulle midde is. Die Psalmis van Psalm 95 kyk later terug na daardie gebeure en roep ’n nuwe “vandag” uit waar die volk nie weer so moet maak soos die volk in die woestyn nie.

Die Hebreër-skrywer sluit hierby aan om daarop te wys dat die volk van die nuwe verbond let op Jesus Christus, hulle ook nie so moet maak nie. Daarom vermaan hy die gelowiges om daarvoor te sorg dat daar nie ’n bose en afvallige hart is wat wegval van die lewende God nie (v.12). Dit gaan hier oor 'n bose hart wat moedswillig afvallig word wanneer omstandighede moeilik raak, teen die getuienis van God in. Hulle moet mekaar eerder elke dag vermaan solank die geleentheid nog daar is om nie deur die verleiding van die sonde hard te word nie. Hulle het reeds deel geword van die nuwe verbond en moet net hieraan tot die einde vashou. Hy vra dan drie vrae oor die gebeure destyds om hulle deur die antwoorde te wys watter toepassings dit steeds vir hulle het.

2021/10/05

Tipologie as wapen en wêreldbeskouing

Ek onthou vaagweg hoe ek iewers in my studente-dae in beleë moderne interpretasie van die Bybel, begin leer het dat sekere maniere van Bybelverstaan onaanvaarbaar is. Twee van die maniere wat slegte name gekry het was om die Bybel te psigologiseer of te tipologiseer. Die bedoeling was om so daarteen te waak dat die Bybel nie van sy betekenis in die onmiddellike verband losgemaak word vir ander agendas nie. Dit sou inlees in die Bybel tot gevolg hê en ons moes die Bybel lees vir wat daar staan, sonder om iets van buite af in te forseer.  

Wat nie vir my geleer is nie, altans nie aanvanklik in die liberale opleiding waaraan ek blootgestel is nie, is dat die Bybel altyd-alreeds  met bepaalde raamwerke benader word en dat 'n bepaalde neo-evolusionêre metode sluipend toegang kry wanneer dit nie pertinent hanteer word nie. Daar is ook nie vir my geleer dat die tipologiese lees van die Bybel van die veronderstelling  uitgaan dat die Bybel nie net op mikrovlak gelees moet word nie, maar ook op makrovlak en dat tipologie erns maak met die die makrovlak van die Bybel. Soos wat Patrick Fairbairn dit treffend verduidelik: Die kerkvaders het die Bybel in die lig van die geheel gelees, terwyl moderne eksegete geneig is om al die klem op die besondere teks in die onmiddellike konteks te wil lees. 

Ongelukkig het die huidige tydvak van fragmentering van die Teks daartoe gelei dat die tastende en tierende tipologiese visie op die geheel erg skade gely het. En tog sien al hoe meer mense in dat ons weer 'n tyd betree waar beide benaderings met nuwe vuur met mekaar mag en moet omgaan. Maar dan sal ons moet leer om tipologie te rehabiliteer en nie oor te gee aan gekaapte en verskraalde moderne opvattings daarvan nie. 

'n Lang aanhaling wat praat

Onderstaande het ek by Scott Hahn gevind. Die waarde van Hahn is dat hy dit nie bloot as metodiek aanbied nie, maar werklik help om dit as 'n omvattende idee aan die orde te stel wat jou hele uitkyk kan verlig. Tipologie kan jou wêreld omkeer. Ja dit roer aan die senuwees van jou hele wêreldbeskouing. Om dit te verduidelik, gaan ek vir Hahn self oor tipologie aan die orde stel, met een belangrike bywerking. Deur hierdie tolk gaan hy Afrikaans praat:   
 

Oor verbondseën, welgeluksalig en shalom

Lees: Ps. 128     

Gedagte vir kinders: Die Here seën elkeen wat Hom vrees en getrou lewe in die kultuuropdrag.

Oorsig: Hierdie Psalm is een van die bedevaartsliedere wat strek vanaf Ps. 120 tot Ps. 134. Die Israeliete het hierdie liedere jaarliks gesing wanneer hulle opgetrek het vir hulle feeste in Jerusalem. Ons sing dit vandag nog op pad na die hemelse Jerusalem. Psalm 128 sluit aan by Psalm 127 en vertel van ware seën. Ons moet hoor dat die hoogste vorm van geluk (“welgeluksalig”) deel is van elkeen wat die Here vrees (aanbid, met heilige ontsag, eerbied en respek voor Hom lewe – v.1)

Sulke mense is nie lui nie, maar werk met hulle hande en die Here seën dit met opbrings wat seker is. Hulle is gelukkig en dit gaan met hulle goed (v.2). Hierdie seën strek ook verder as die individu na die hele gesin. Die vrou van die man word vergelyk met ’n vrugbare wingerdstok binne-in die huis. Die wingerdstok het ondersteuning nodig, maar is vol vrug wanneer dit versorg en gekoester word. Die kinders word weer vergelyk met jong olyfboompies (v.3). Die staan hier onder meer vir kragtige potensiaal vir die toekoms. Die Psalmis bevestig dan dat diegene wat die Here vrees, so geseën sal wees (v.4).

Hierna word die seën verder oor sulke mense uitgeroep en ons hoor van die bron van hierdie seën – uit Sion. Dit is die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is. Die seën kom vanaf die tempel – daar waar die versoening en lewe met God bedien word.

Die nuwe wyn van die nuwe verbond

Lees: Joh. 2:1-11           

Gedagte vir kinders: God se nuwe wyn het deur Jesus Christus reeds begin.

Oorsig:  Ons lees hier van die derde dag vandat die Here Jesus na Galilea begin gaan het. Daar was ’n bruilof in Kana en Jesus se moeder was daar (v.1). Jesus en sy dissipels - ons weet hier in Johannes reeds van vyf - was ook na die bruilof genooi. Om een of ander rede het daar wyn kortgekom en die moeder van Jesus het Hom toe vertel dat hulle geen wyn het nie (v.3). Die Here Jesus het toe ’n bepaalde afstand tussen Hom en sy moeder geskep en haar as “vrou” aangespreek – die amptelike beleefde groetwyse van daardie tyd (v.4). Sy moes so leer dat Hy in sy openbare werk as die Gesalfde meer as net haar seun was. Hy het haar daarop gewys dat sy uur nog nie gekom het nie (v.4). In Johannes wys die uur wat gekom het, telkens op die kruisdood van Christus waar Hy vir ons sondes sou sterf.

Reformatoriese toetrede tot die derde golf van bydraes oor die Triniteit

Hierdie artikel is goedgunstiglik in 2020 geplaas in die feesbundel wat die die 150ste bestaansjaar van die teologiese opleiding van die GKSA herdenk. Hier is die voorsmaak tot die res:

Die gereformeerde teologie behoort in die leer van die Triniteit vandag ten minste twee uitdagings te hanteer. Die meer algemene uitdaging gaan daaroor dat gerekende reformerende teoloë soos Robert Letham (2004:5–6) daarop kan wys dat die meeste Westerse Christene praktiese modaliste is. Letham (2004:5–6) haal ook vir Colin Gunton aan wat beweer dat die neiging tot modalisme aan die wortel van die ateïsme en agnostisisme lê wat die Westerse kerk konfronteer. Intussen was daar ‘n sogenaamde Trinitariese renaissance, ook genoem oplewing (vgl. Vanhoozer 2014:31), wat in die twintigste eeu plaasgevind het en bepaalde antwoorde hierop begin gee het. Dit het daartoe gelei dat iemand soos Stanley Grenz (2004:1–5) die bydraes rondom die leer van die Drie-eenheid kon beskou as waarskynlik van die verreikendste vir die teologie in hierdie tydperk. Dit bring reeds die tweede uitdaging na vore wat in besondere sin op ons tyd gerig is. Wat is gereformeerdes se bydrae vandag in hierdie verband? Venter (2011:6–7) wys byvoorbeeld aan die hand van Van den Brink en Van Erp daarop dat daar, met uitsondering van Noordmans, ’n opvallende afwesigheid van produksie oor die Triniteit in Nederland in die twintigste en een-en-twintigste eeu was. Intussen het die produksie in Suid Afrika nie agterweë gebly nie, en Ernst Conradie (2019) het onlangs ’n handige oorsig oor geleerde bydraes oor die Triniteit in Suid-Afrika gegee.

Hierdie artikel tree die beweging tegemoet deur

2021/07/12

Watter Weste?

Die literêre denker, Joseph Pearce, skryf gewoonlik meevoerend. Nie te lank gelede nie, het hy in 'n nuusbrief voedsel vir verorbering oor die begrip Weste gegee. Watter Weste? Dit is die tema wat Pearce aan die orde stel. Kategorieë maak saak en Pearce onderskei tussen die ou Weste en dit wat neerkom op die s​o​genaamde nuwe Weste. Laasgenoemde kom neer op post-Verligting. Die ou Weste kom neer op Athene wat vir Jerusalem ontmoet het. Die word ook Christendom genoem. Pearce wys daarop dat hierdie twee visies op die Weste steeds in 'n titaniese stryd gewikkel is. Dit is nie asof nuut bloot vir oud vervang het nie. Hoewel hy dit nie so uitbeeld nie, is dit eerder twyfelagtige water wat vir algemeen ontwyfelbare wyn probeer vervang. Die stryd duur voort en diegene wat oortuig geraak het van die uitgediende aard van die wyn-weergawe, moet weer besin. Dit was nog altyd tipies van dwaalligte om voor te gee dat die permanente dinge nou uitgedien is. En keer op keer het realiteit teruggeskop en voortgalop.

2021/07/07

Gemeenskapsuniversiteite

Ek het by geleentheid 'n toespraak oor die model van gemeenskapsuniversiteite gehad wat later vir Maroela Media verwerk is by hierdie skakel. Die volgorde van die artikels is eintlik, as jy met 'n loopfoon werk, van onder af boontoe. Die goeie gonswoord van ons tyd is gemeenskap. Die herwaardering van gemeenskapsbeveiliging,  gemeenskapsbesighede en selfs gemeenskapskerke is aan die orde van die dag. Dit verteenwoordig die lokalistiese antwoord op die globalisme met sy klem op standaardisering en gelykstelling op die maat van moderne vooroordele. Daarom is dit eintlik voorspelbaar dat ons ook sal herbesin oor die die model van gemeenskapsuniversiteite binne federale omgewings.

Kerke en Godverwysing

In een van my studiegidse het ek die volgende raakgeloop:  

"Ons moet nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid." 

Waar dit nie gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.

2021/07/06

Sondag en metafisika

Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe publikasie, The Unbroken Thread: Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die Senior Direkteur van die Word on Fire Instituut, het die gesprek gelei.

Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema  wat Zimmerer beskrywe as 'n kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies. Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou hê dat jy 'n dag af moet neem? 

Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend. Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid, wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in. 

Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie. 

Dit is hierdie sabbatsvisie, sê  Ahmari, wat verloor is in die naam van vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie?  Volgens Ahmari is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.

2021/06/11

Boekbespreking: Science, Politics and Gnosticism: Two Essays [1960] 2012, deur Eric Voegelin (2)


In die eerste aflewering is die klassieke publikasie van ’n politieke filosoof van die twintigste eeu, Eric Voegelin, bekend gestel. Volgens Voegelin is die Gnostisisme die essensie van modernisme en nuwe dinge is nie so nuut is soos wat ons dink nie. Hy is van mening dat daar duidelike motiewe, simbole en denkpatrone van die gnostiese bewegings tot in ons tyd geëien kan word. In hierdie aflewering kyk ons na sy tweede en laaste essay in sy publikasie met die titel Science, Politics and Gnosticism. 

Surrogaat-godsdiens: Gnostieke massabewegings

In sy tweede referaat, Ersatz Religion: The Gnostic Mass Movements of our Time,  hanteer Voegelin die gnostiese massabewegings en die intellektuele bewegings van sy tyd (en ons tyd) as minderwaardige plaasvervangende godsdienste. Insiggewend genoeg toon hy hiermee aan dat daar nie so ’n groot verskil is tussen massabewegings en intellektuele bewegings as wat sommige dink nie. Voegelin voer aan dat beide hul oorsprong het in bepaalde intellektuele en kleingroepe. Dit laat ’n mens dink aan die kleingroepe waaruit die Kerk ook gegroei het en versterk die vermoede van die nabootsing van godsdiens. Hierdie vermoede word ook verder bevestig wanneer Voegelin opmerk dat ons die woord altruïsme aan Auguste Comte te danke het, en dat dit die sekulêre plaasvervanger vir liefde is wat gebruik om word om die broederskap van mense sonder die Vaderskap van God te erken. Hieronder tel hy die progressiwisme, positivisme, Marxisme, vorme van psigoanalise, kommunisme, fascisme, en nasionale sosialisme.       

Voegelin identifiseer ’n gnostiese lyn vanaf die antieke Mediterreense gebied deur bewegings van die Hoë Middeleeue heen, tot by die Westerse Renaissance en Reformasie. Hy identifiseer ses kenmerke van die gnostiese houding. (1) Ontevredenheid met die eie situasie (nie so vreemd nie); (2) die geloof dat die situasie te wyte is aan swak organisasie van die wêreld (meer vreemd – dit is hiervolgens strukturele probleme eerder as sonde-probleme); (3) redding uit hierdie bose toestande/strukture is moontlik; (4) Die wese van die wêreld moet verander word in ’n geskiedkundige proses; (5) Die verandering moet geskied deur menslike aksie en die mens se eie pogings; (6) die ingeleides met kennis sal vir ons die metode wys hoe dit moet gebeur. Dus: ’n formule vir selfverlossing en wêreldverlossing.  

Tipiese simbole

Hierdie houding vind uitrukking, nie net in bepaalde denkpatrone nie, maar ook tipiese simbole. Die motiewe en simbole sal hier net kortliks genoem word, en dan sal daar veral na twee uitdrukkings daarvan gekyk word wat ligte tot in ons dag laat opgaan.

Boekbespreking: Science, Politics and Gnosticism: Two Essays [1960] 2012, deur Eric Voegelin (1)



Ons is almal nou Gnostieke. Dit is die vangfrase wat onlangs in 'n podsending gebruik is toe die metafisiese uitkyk van ons tyd ter sprake was. Een van die verwysings wat die stelling moes staaf, was hierdie kern-werk van Eric Voegelin wat nagenoeg 100 bladsye beslaan en wat dateer uit 1959-60.

By die herlees van hierdie werk kom die uitlokkend polities korrekte spot by 'n mens op. Dit is dat 'n blonde man drie keer vir 'n grap lag - wanneer hy dit hoor, wanneer hy dit oorvertel, en wanneer hy dit verstaan. Voegelin se werk maak van die meeste van ons, in elk geval van hierdie bekendsteller, blonde mans. Vergun my daarom om oor te vertel, sodat ook ek kan snap. Volgens Voegelin is Gnostisisme die essensie van modernisme. Die stelling behoort aandag te trek, aangesien hierdie bondige werk van Voegelin beskou word as ’n klassieke werk in moderne politieke teorie volgens Ellis Sandoz wat die voorwoord geskryf het. Sandoz wys daarop dat hierdie werk van Voegelin ongeveer agt jaar na sy publikasie, The New Science of Politics (1952), verskyn het en dat hierdie later werk die tweede gedeelte van die genoemde publikasie verdiep.

Moet ook nie die fout maak om te reken dat selfs hierdie stelling in vandag se post-wêreld agterhaald is nie. Ons is mos, so reken baie, darem nou lankal uit die modernisme uit en in die post-postmodernisme in. By die lees van Voegelin word dit egter duidelik dat Voegelin ook vaders van die post-gedagtes  - soos Nietzsche, soos Joachim van Fiore - insluit. Om die waarheid te sê, Voegelin sou vandag waarskynlik sê dat die skadu van Gnostiekeland bloot duideliker en donkerder geword het. En deel van die dilemma is, sê Voegelin oorgeklank, dat ons steeds met gnostiese konsepte probeer om uit te klim uit die gnostiese gat wat ons vir onsself gegrawe het. Wat moet dan gebeur?

2021/06/01

Oor dogma, drama, en diepte

Dorothy Sayers is bekend vir haar woorde oor dogma en drama:

"We are constantly assured that the churches are empty because preachers insist too much upon doctrine—dull dogma as people call it. The fact is the precise opposite. It is the neglect of dogma that makes for dullness. The Christian faith is the most exciting drama that ever staggered the imagination of man—and the dogma is the drama."

Sayers gaan dan voort om daarop te wys dat dit sentraal staan in die vraag na wie Jesus as die Christus in die belydenis van die Kerk is. Sy wys dan ook op die dramatiese Persoon van Jesus Christus wat in die dogma van die Kerk bely word. 

Op my radar het ek 'n aantal jare gelede aan die hand van die  teoloë, Kevin Vanhoozer en Michael Horton, met hierdie dramatiese beklemtoning van Sayers bekend geraak. Die drama-aspek het dan ook 'n goeie, en ek wil byvoeg boeiende effek, in beide Vanhoozer en Horton se teologie tot gevolg. Dit is natuurlik ook kenmerkend van ons tyd om die sosiale aspekte van die werklikheid uit te lig en waar dit reg gedoen word, kan dit definitief help met vrugbare ontsluiting. Dit kan ook help om konstante en dinamiese benaderings met mekaar in spel te hou. Solank die dinamiese net nie die konstante en permanente aard wil versluier of verslind nie, want dit is wat ongelukkig te tiperend van ons tyd geword het. Maar dit kan vir seker help om die vonkel uit te ken, ja ook die vonkel van ouderdom en goeie wyn. So gebruik Horton 'n treffende struktuur van vier dawerende D's om die verskillende loci van die sistematiese teologie te benader: Drama, dogma, dissipelskap, doksologie.    

Vergun my ook 'n verdere D: diepte. Die dogma gee diepte aan die boodskap van die Skrif. Daarsonder is die prediking opsigtelik plat.

2021/05/14

Boekbespreking: Gnostic America: A Reading of Contemporary American Culture & Religion according to Christianity’s Oldest Heresy, 2014, deur Peter Burfeind



 Waarom lyk dit deesdae of alles skielik intuimel? Waarom is daar sulke definitiewe optrede om alles wat voorheen aanvaarbaar was nou te bevraagteken en te vervang? Waarom kan ’n universiteit byvoorbeeld nou selfs begin reëlings tref dat studente nie eers meer as dames en here aangespreek behoort te word nie? Peter Burfeind, ’n leraar in die Lutherse tradisie, het ’n baie definitiewe antwoord. Soms kry ’n mens die gevoel dat hy ’n hamer gevind het en dat alle kwessies nou spykers is wat hy daarmee kan slaan. En tog, daar is net te veel spykers wat wel raakgeslaan word wanneer Burfeind die hamer optel.

Burfeind het jarelank (sedert die middel van die 1990’s) ondersoek ingestel na die ou dwaalleer van die Gnostisisme wat telkens nuwe gedaantes in die geskiedenis gekry het. Om die waarheid te sê, Burfeind wys daarop dat hierdie donker dwaalleer reeds in die Bybelse tye na vore getree het (vgl. 1 Johannes) en dat dit die Kerk soos ’n skaduwee deur die eeue heen volg. Burfeind reflekteer onlangs oor sy publikasie wat uiteindelik in 2014 verskyn het, Gnostic America, en noem die dwaling die duiwel se teologie. Hy stel dan dat hy geleidelik met sy navorsing begin besef het dat die probleem groter is as wat hy gedink het. Daarom wys hy uiteindelik in hierdie werk die invloed van die Gnostisisme in Amerika op godsdiens, kultuur en politiek. Sy toepassings toon egter duidelik aan dat dit nie net ’n probleem in Amerika is nie, maar ook in baie ander eertydse Westerse lande.

Waaroor gaan dit in die Gnostisisme en hoe is hierdie ou dwaling vandag steeds springlewendig?

2021/05/13

Boekbespreking: The Ascension of Christ: Recovering a Neglected Doctrine, 2020, deur Patrick Schreiner



Dit is weer tyd vir Christene se herdenking van die Hemelvaart. Dit is ook die Christelike vakansiedag wat in Suid-Afrika reeds gesneuwel het. In baie Europese lande word die dag verbasend genoeg nog steeds as vakansiedag herdenk, maar dikwels is die werklike betekenis daarvan reeds lankal verlore. Dit is daarom heel gepas om by die herdenking van die Hemelvaart weer te hoor hoe belangrik hierdie aspek van ons geloof is en waarom dit verdien om weer ingestel te word.

Patrick Schreiner, Professor in Nuwe Testament in Kansas City, Missouri in die VSA, het in 2020 ’n belangrike bydrae hieroor gelewer in die bondige Snapshot-reeks in teologie. Schreiner skryf in ’n behoorlik Bybelbelaaide publikasie oortuigend oor die belang van die Hemelvaart-gebeure vir ons lewe en ons teologie. Hy begin heel gepas met ’n aanhaling van die behoudende Douglas Farrow van Kanada, die teoloog wat in die onlangse tyd geweldig baie gedoen het om die belang van Hemelvaart weer op die agenda te plaas: “Dit is opmerklik hoe min die Hemelvaart deesdae genoem word. Eens was dit gesien as die hoogtepunt van die verborgenheid van Christus ... Vandag is dit 'n verleentheid.”