Gedagte vir kinders: Kinders van die Here wys elke dag vir die wêreld aan wie hulle behoort.
Oorsig: Die kinders van Israel het Egipte verlaat tydens Paastyd, dit is die 14de
van die eerste maand Nisan/Abib, dit beteken dat toe hulle in die derde maand (Sivan)
ná die uittog in die woestyn Sinai aangekom het, dit aan die begin van die
maand ongeveer 45 dae ná die uittog was dat hulle by Sinai aangekom het (v. 1).
Daarom is baie verklaarders van mening dat Here se verskyning op Sinai en die
tien gebooie se afkondiging op die 50ste dag na die Pasga, dit is Pinksterdag,
plaasgevind het (vgl. Lev. 23:5,15-16; Num. 28:26). Die volk het daar by Sinai,
komende vanaf Rafidim, teenoor die berg laer opgeslaan waar die Here aan hulle
sou verskyn (v.2). Daar het Moses opgeklim na God toe en die HERE het hom van
die berg af toegeroep. Ons sien reeds hier hoe Moses as ’n tipe middelaar tussen
God en die volk optree. Die HERE het vir Moses gesê dat hy die volgende aan die
huis van Jakob, die kinders van Israel moet verkondig: Hulle het self gesien
wat die HERE aan die Egiptenaars gedoen het en dat Hy Israel na Hom toe gebring
het soos wat ’n arend sy kleintjies op sy vlerke dra (v.3-4). Hierin hoor ons
die vrye genade van die HERE met Israel.
Maar hiermee saam: As die volk dan nou getrou (terdeë) (1) na die HERE se
stem luister en (2) sy verbond hou, sal hulle sy besondere persoonlike eiendom
uit al die volke wees, al het die hele aarde aan Hom behoort (v.5). Hulle sou
dus uitstaan as lig in die duisternis en vir die wêreld wys hoe dit lyk waar
God woon. So sal hulle vir Hom, let wel, ’n koninkryk van priesters en ’n
heilige nasie wees. Dit moes Moses aan die kinders van Israel meedeel (v.6).
Moses het toe gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie
woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het (v.7). Toe het die volk eenparig almal
saamgestem en gesê dat hulle alles wat die Here gespreek het sal doen. So het
Moses as middelaar weer die woorde van die volk aan die HERE oorgebring (v.8).
Die Here het toe vir Moses gesê dat Hy in ’n dik wolk na Hom sal kom en dat
die volk sal kan hoor as Hy met Moses spreek. Dit sal meewerk dat hulle altyd
aan Moses glo, want Moses het die woorde van die volk aan die HERE meegedeel
(v.9). Die Here sou dus nog ’n maal deur sy verskyning by Sinai met die
afkondiging van die tien gebooie vir die volk bevestig dat Moses sy kneg en
middelaar is deur wie Hy met hulle sou praat.
Besprekingsvraag: Hoe sien ons die vreugde sowel as koste van dissipelskap in hierdie
gedeelte?
Insig: Dit was ’n besondere uitspraak dat Israel ’n koninkryk van priesters genoem is, maar beslis nie iets heeltemal nuut nie. Adam was geskape om ’n priester-koning in die tuin van Eden te wees en Israel sou nou hierdie roeping kollektief as besondere volk voortsit. Israel sou ’n koninkryk van priesters vir die wêreld wees wat vir die wêreld oor God leer en vir die wêreld tot God kon bid. Innerlike beteken dit sulke koninklike priesters God deur gereinigde kennis leer ken en in liefde en aanbidding van Hom groei. Uiterlik beteken dit ook dat die nasies in verwondering sou wees oor hulle God se regverdige wette vir hulle samelewing (Deut. 4:7-8). Abraham het reeds die belofte gehad dat in hom al die geslagte van die aarde geseën sou word (Gen. 12:1-3). Hier moes Israel as draer van Abraham se beloftes dit voortsit deur ’n koninklike priesterdom vir die wêreld te wees. Hulle was ook die draers van die beloftes oor die Messias wat in Christus waar geword het. In Christus as verteenwoordiger van Israel, kan al die geslagte van die aarde nou geseën word vir elkeen wat in Hom glo en voor Hom buig. In die Nuwe Testament word hierdie roeping nou verder voortgesit deur die Kerk van Jesus Christus. Die Kerk is nou ’n koninklike priesterdom uit al die nasies om die deugde van God aan die wêreld te verkondig van Hom wat hulle in Christus geroep het tot sy wonderbare lig (vgl. 1 Pet. 2:5,9-10). Die Kerk sit dus nou die roeping van Israel voort en daarom kan ons met waardering luister oor wat God deur hierdie Woord vandag nog steeds vir sy Kerk sê. Dit gaan hier oor die vreugde van dissipelskap sowel as die koste van dissipelskap (Brueggemann).